Mense is nie altyd ten volle ingelig oor die belangrike aspekte rondom korttermynversekeringseise nie, skryf Pieter Willem Moolman.
Die meeste sulke eise vind gewoonlik onder die huisinhoud-, motor- en alle risiko afdelings plaas en ek wil vandag by eersgenoemde stilstaan.
Die eerste stap is om seker te maak dat jou huisinhoud voldoende dekking geniet. Indien ’n eis sou ontstaan, wil jy nie onderverseker wees nie.
Mense is baie keer geneig om op die groot en duur items te fokus en versuim dan om die kleiner en goedkoper items in berekening te bring.
Makelaars het gewoonlik ’n inventaris wat jou hiermee kan help. Dit sal jou in staat stel om elke liewe item in jou huis in ag te neem en so ’n versekeringsbedrag wat voldoende is, te help bepaal.
Vergewis jouself ook van die sekuriteitsvereistes wat op jou polisskedule gestipuleer word. Indien dit vereis dat jy diefwering voor alle oopmaakvensters en veiligheidshekke voor deure moet hê, kan ’n eis gerepudieer word indien die assessor die teendeel kan bewys.
Indien jy as die versekerde geopenbaar het dat jy wel ’n gekoppelde alarm in jou woning het, kan ’n eis hier ook gerepudieer word indien dit nie aan ’n sekuriteitsmaatskappy gekoppel is of geaktiveer is nie.
Indien jy ’n alarm het, dit op jou polisskedule as vereiste aangeteken is en jy nie die alarm aktiveer wanneer jy uitgaan nie, kan dit ook die eis laat skipbreuk ly.
Die minimum sekuriteitsvereistes is gewoonlik diefwering voor oopmaakvensters en veiligheidshekke voor deure, maar, indien jy ’n alarm het, vervang dit gewoonlik die minimum vereistes.
In komplekse vervang elektriese heinings en toegangsbeheerde hekke nie noodwendig diefwering en veiligheidshekke nie. Sekuriteitswagte wat dag en nag by die hekke diens doen, is die enigste sekuriteit wat bogenoemde, of ’n alarmstelsel, in ’n kompleks kan vervang.
Let ook op dat die voorwaardes deur die versekeraar aangepas kan word in gebiede wat as ’n hoër risiko beskou word.
Onthou om ná ’n inbraak ’n saak by die polisie oop te maak. Die volgende inligting is wat jou makelaar van jou sal verlang: datum en tyd van voorval; beskrywing van voorval; saaknommer; naam van die polisiekantoor en die datum waarop die saak aangemeld is.
Jou makelaar gaan ook kwotasies vir alle vermiste items vereis.
Indien jy ’n alarm het, kan die versekeraar ’n verslag van die sekuriteitsmaatskappy aanvra.
Verder kan versekeraars self besluit hoe om jou vir jou skade te vergoed. Hulle kan byvoorbeeld herstel, vervang, ’n kontantbetaling maak of enige kombinasie hiervan.
Die belangrikste en laaste punt wat ek onder ’n versekerde se aandag wil bring, is dat hy of sy die eis so spoedig moontlik moet registreer. Versekeraars bied slegs 30 dae grasie hiervoor.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.