Ná my mees onlangse rubriek oor korttermynversekering waarin ek eise in verband met huisinhoud bespreek het, fokus ek vandag op voertuie, skryf Pieter Willem Moolman.

Ek wil begin deur die verskillende tipes dekking – omvattende, beperkte en derdeparty – te verduidelik.

Die eerste opsie sluit toevallige verlies van of skade aan jou voertuig in. ’n Voertuig wat só verseker is, geniet eintlik alle-risiko-dekking onderhewig aan die bepalings en voorwaardes van jou polis.

Die beperkte opsie dek toevallige verlies van of skade aan die voertuig slegs as dit deur ’n brand, weerlig, ontploffing, diefstal of poging tot diefstal veroorsaak is.

pieter_willem_moolman_hs_thumbVoertuie wat derdeparty-beskerming geniet, word slegs gedek vir bedrae waarvoor jy wetlik teenoor ’n derde party aanspreeklik is en as die aanspreeklikheid met die voertuig verband hou.

In terme van korttermynversekering, is voertuigeise seker die kategorie waaroor versekerdes die meeste vooraf-kennis moet hê.

Motorongelukke kan plaasvind wanneer dit moeilik is om met makelaars of versekeraars in verbinding te tree en die eisproses kan aansienlik bespoedig word indien die versekerde vooraf presies weet wat van hom of haar verwag word.

Baie maatskappye vereis ’n voltooide eisvorm en daarom stel ek voor dat jy vooraf een by jou makelaar of versekeraar kry en dit bêre.

Indien ’n derde party by die ongeluk betrokke was, is dit belangrik om soveel as moontlik inligting van daardie persoon te kry.

Maak egter seker dat inligting, soos selfoonnommers, korrek is. In gevalle waar die derde party nalatig was, gebeur dit baie dat foutiewe inligting weergegee word.

Roep die polisie na die ongelukstoneel toe uit sodat hulle verklarings van beide partye kan kry. Dit verminder die risiko dat probleme sal ontstaan waar skade van die derde party geëis word.

Bespreek vooraf met jou makelaar watter verskaffers (soos insleepdienste en paneelkloppers) deur hulle goedgekeur is, want nie almal is byvoorbeeld gemagtig om aan voertuie wat onder waarborg is, te werk nie.

Inligting wat aan jou makelaar of versekeraar deurgegee moet word, sluit in: datum, tyd en adres van gebeure; bestuurder tydens die ongeluk; beskrywing van die ongeluk; skets van die ongelukstoneel; en ’n afskrif van die bestuurder se identiteitsdokument en bestuurslisensie.

Die versekeraar sal ook die saaknommer, polisiekantoor en die datum waarop die saak aangegee is, wil hê. Sommige versekeraars vereis verder ook meer as een kwotasie om gelaaides uit te skakel.

En, onthou, soos in die geval van huisinhoudeise het versekerdes net 30 dae om ’n eis te registreer.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.