Om die korrekte mediese fonds vir jou behoeftes te kies, is makliker gesê as gedaan en ek word letterlik oorval met navrae hieroor, skryf Pieter Willem Moolman.
In verlede week se rubriek het ek op hospitalisasie-dekking van mediese fondse gefokus en vandag doen ek dieselfde met die dag-tot-dag-aspek.
Daar is tans twee tipes dekking beskikbaar: konvensionele mediese fondse en die nuwe-generasie spaarplan-opsies.
Ou-generasie-produkte bied dekking vir alle dag-tot-dag-uitgawes met sub-limiete vir byvoorbeeld tandheelkunde, optometrie en voorskrifmedikasie. Hierdie opsies is besonder duur en nog by baie min fondse beskikbaar.
Nuwe-generasie-fondse met spaarplanne werk op die basis dat ’n sekere persentasie van die lid se jaarlikse premie as ’n enkelbedrag in Januarie vooruit beskikbaar gestel word. Hierdie fondse dek die jaar se buite-hospitaal mediese uitgawes.
Die spaarrekening kan na goeddunke deur die lid en sy gesin vir mediese uitgawes aangewend word. Indien dié fondse voor die einde van die jaar uitgeput is, sal verdere buite-hospitaal-uitgawes vir die lid se eie rekening wees.
Sodanige opsies is baie meer koste-effektief en by alle fondse beskikbaar.
’n Verdere faktor wat nuwe-generasie-produkte meer aanloklik maak, is die feit dat ongebruikte fondse in die spaarrekening na die volgende jaar oorgedra word en dus akkumuleer. In ou-generasie-produkte verval ongebruikte dekking teen jaareinde.
Daar is egter steeds faktore wat fondse van mekaar differensieer en wat die verbruiker in ag moet neem wanneer hy sy keuse maak.
Sekere fondse het ’n unieke voordeel. Indien die spaarrekening se fondse uitgeput raak, sal daar na ’n sekere bybetaling (die selfbetalingsgaping genoem) weer dekking vir dag-tot-dag-uitgawes in werking tree.
Hoewel die spaarrekening volgens die lid se diskresie aangewend word, moet daar steeds seker gemaak word wat die sub-limiete op verskeie gesondheidsdienste is. Al is die bo-drempel-voordeel onbeperk, kan sub-limiete steeds tot gevolg hê dat die lid vir sekere gesondheidsdienste moet inbetaal.
Sommige mediese fondse bied dekking bo en behalwe die spaarrekening. Dit sluit in gratis voorkomende toetse (cholesterol, papsmeer, PSA, glukose ens.), ’n aantal gratis algemene praktisyn-besoeke, gespesialiseerde radiologie (gedek uit die hospitaalvoordeel), gratis kontrasepsiemiddels, gratis griepinspuitings en ’n gratis oogtoets elke 24 maande.
Hierdie voordele moet deeglik bestudeer word, aangesien hierdie meevallertjies baie waardevol kan wees indien die fondse in die spaarrekening uitgeput is.
Met die bogenoemde in ag geneem, asook my kommentaar in die vorige artikel (sien www.pwmfb.co.za), is dit steeds wys om ’n finansiele adviseur oor die keuse van ’n mediese fonds te raadpleeg.
Die adviseur sal al die faktore – insluitende jou huidige mediese toestand – deeglik oorweeg en ’n ingeligte besluit neem.
Dis egter belangrik om enige besluit op ’n jaarlikse basis, of soos omstandighede verander (geboorte of die intrede van ’n ernstige siektetoestand), te hersien.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.