Kliënte nader ons gereeld om hulle te help om die korrekte mediese fonds vir hul behoeftes te kies, skryf Pieter Willem Moolman.
Omdat daar baie fondse is en almal se voordele verskil, is dit soms moeilik om die regte besluit te neem en die verkeerde dekking kan ernstige finansiële gevolge hê.
Verskeie faktore kan oorweeg word om die besluit te vergemaklik en ek gaan poog om die belangrikste aan te raak.
Die eerste vraag wat jy jouself kan afvra, is hoe jou gesin se huidige gesondheidstoestand daar uitsien en wat jul unieke behoeftes is.
Indien jou behoefte aan mediese versorging beperk is (jonk en gesond), kan jy slegs dekking vir hospitalisasie oorweeg. As jy egter ouer of siekliker is en baie dag-tot-dag mediese uitgawes het, moet jy meer omvattende dekking oorweeg.
Indien jy op eersgenoemde besluit het, moet jy eers die verskillende fondse in meer detail ondersoek sodat jy hulle teen mekaar kan opweeg.
Omdat die faktore legio is, fokus ek vandag slegs op hospitalisasie-dekking.
Die eerste vraag is of jou dekking onbeperk is. Baie van ons slaap gerus in die wete dat ons hospitaalplanne het, min wetende dat daar beperkings daaraan gekoppel kan wees.
Weens die hoë koste van privaat-hospitalisasie, kan ’n beperking van byvoorbeeld R500 000 jou duur te staan kom. In die geval van ’n groot operasie of ongeluk, kan so ’n limiet vinnig bereik word en sal bykomende onkostes vir jou eie sak wees.
Verder kan daar ook limiete op behandelings soos onkologie, patologie, prostesis en fisioterapie wees. Maak dus seker dat jou hospitaalplan voldoende dekking hiervoor verskaf.
Die tarief waarteen dokters vergoed word, kan ook ’n uitwerking hê. Hospitaaldekking waarborg nie dat spesialiste ten volle betaal sal word nie.
Vergoeding van spesialiste en ander mediese beamptes wissel tussen 100 en 400% van voorgeskrewe tariewe. Die tarief waarteen mediese fondse bereid is om spesialiste te vergoed, wissel egter ook.
Dus, as die gekose fonds slegs 100% dekking bied, sal jy ’n bybetaling hê indien die spesialis meer as 100% van die voorgeskrewe tarief vra.
Sommige planne bind jou tot sekere hospitaalnetwerke. Dus is jy slegs gedek indien jy van die netwerk gebruik maak.
Hierdie faktor is slegs problematies indien die spesialis/dokter nie sy dienste in die voorgestelde hospitaal lewer nie.
Dit is belangrik om seker te maak watter bybetalings van toepassing is op die opsie wat jy kies. Sekere fondse het vasgestelde bybetalings op rugoperasies, laparoskopiese prosedures en sekere tandheelkundige prosedures.
MRI- en CT-skanderings is duur en word deur sekere fondse beperk of slegs in sekere gevalle toegelaat. Maak doodseker wat jou fonds se siening rakende hierdie tipes radiologie is, aangesien sekere fondse spesiale goedkeuring moet verleen vir elke skandering wat gedoen moet word.
Die fonds wat jy kies moet ook ’n goeie kredietwaardering hê asook ’n goeie eis-betalingsgeskiedenis.
Ek wil lesers aanmoedig om nie vir die goedkoopste premie te soek nie, maar eerder om ’n gepaste fonds te kies. Mediese uitgawes kan ’n individu finansieël ruïneer en dus is die regte fonds ’n noodsaaklikheid.
Die wet maak gelukkig voorsiening dat jy jaarliks bewysvry na ’n ander kan oorskakel.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.