Oudisies vir die plaaslike gleuwe op die MTN Nelson Mandelabaai Splashfees se amptelike vermaaklikheidsprogram is besig om alle verwagtinge te oortref.

Die organiseeerders het verlede week aangekondig dat oudisies vir “nuwe” plaaslike talent by vyf plekke regoor die metro gehou sou word en belangstellendes genooi om in te skryf. Kunstenaars vanoor die hele vermaaklikheidspektrum kon deelneem.

Oudisies het tot dusver op Uitenhage (Maandag), Motherwell (Dinsdag) en Gelvandale (Woensdag) plaasgevind. Die laaste twee vind Vrydag in New Brighton en Saterdag by The Boardwalk plaas.

“Die oudisies tot dusver was baie suksesvol,” het David Limbert, koördineerder, Donderdag gesê. “Ons was gisteraand letterlik oorval.”

Volgens hom kry individue een geleentheid om die paneel beoordelaars te beïndruk en groepe twee.

Limbert sê, soos in alle oudisies van dié aard, is die optredes ’n interessante mengsel van “rou talent” en verskeie vlakke van ervaring. Hy sê, waar dit nodig is, gee die paneel vir die deelnemers “konstruktiewe” kritiek.

Die oudisies is besig om in hul doel te slaag, meen Limbert. “Verskeie van die deelnemers sal beslis by die fees te siene wees.”

Hoewel daar nog enkele gleuwe vir Vrydag se oudisies beskikbaar is, is Saterdag s’n reeds vol.

Die Splashfees vind oudergewoonte tydens Paasnaweek (2 tot 5 April) op Hobiestrand plaas.

Persone kan die kantoor by 041 393 4800 vir meer inligting skakel of www.splashfestival.com besoek.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

MTN Nelson Mandela Bay Splashfees