Ek het verlede week ’n lesersvraag oor die beskerming wat ’n trust tydens ’n egskeiding kan bied, beantwoord, skryf Pieter Willem Moolman.

Vandeesweek wil ek die moontlike gevolge van insolvensie oorweeg, ook op bates wat in trust gehou word.

Om insolvent verklaar te word, is die gevolg van ’n situasie waar jou laste jou bates oorskrei.

Jy kan ’n vrywillige oorgawe bewerkstellig, of jou krediteure kan aansoek doen om jou insolvent te verklaar. Hoe dit ookal sy, die gevolge is ingrypend.

Die vraag is of die behoorlike gebruik van ’n trust behulpsaam kan wees om sommige bates te beskerm.

Ek het voorheen klem daarop gelê dat die handelinge van die trustees baie belangrik is en dat alle aksies behoorlik gedokumenteer moet word. Wat ook van belang is, is die wyse waarop bates na ’n trust oorgedra word.

In wese is daar slegs twee transaksies wat uitgevoer kan word: bates kan verkoop of geskenk word aan ’n trust. Op ’n latere stadium sal ek die voordele oorweeg om bates aan ’n trust te laat vererf.

Die skenking van bates aan ’n trust sal aanleiding gee tot aanspreeklikheid vir geskenkebelasting, wat tans 20% van die waarde wat geskenk word, beloop (onderworpe aan ’n vrystelling vir die eerste R100 000 wat per jaar geskenk word).

Hierdie kan dus ’n duur transaksie wees, maar die voordele van beskerming en die vermindering van die waarde van jou boedel met betrekking tot moontlike boedelbelastingimplikasies later, moet behoorlik opgeweeg word.
   
Groeibates kan ook aan ’n trust verkoop word. Aangesien die trust nie oor die nodige geld sal beskik om die bates te betaal nie, sal die koopprys uitstaande bly.

Daar sal met ander woorde ’n leningsrekening ten bedrae van die uitstaande koopprys ten gunste van die verkoper wees. Die lening is gewoonlik op aanvraag betaalbaar.

Rente kan bereken word op die leningsrekening, maar gewoonlik vra die verkoper nie rente nie, omdat dit sou beteken dat sy boedel jaarliks groei met die bedrag van die rente wat geakkumuleer het.

Dit sal natuurlik die doel waarvoor die bates in die eerste plek verkoop is, verydel – naamlik om hul groei vas te pen.

Bates moet teen markwaarde verkoop word, anders kan aanspreeklikheid vir geskenkebelasting onstaan op grond daarvan dat die bates vir ’n ontoereikende teenprestasie verkoop is.

Dit is belangrik om te onthou dat dit nie moontlik is om bates ewe skielik aan ’n trust te vervreem wanneer insolvensie jou in die gesig staar nie!

Die wetgewing maak voorsiening vir die uiteindelike trustee van die insolvente boedel om sekere transaksies, wat aangegaan is met die bedoeling om krediteure te benadeel, ter syde te stel.

Dit bring dus weer die belangrikheid van behoorlike boedelbeplanning na vore. Die proses behels nie net die moontlike vermindering van boedelbelasting nie, maar ook die identifisering van besigheids- of aanspreeklikheidsrisiko.

Die gebruik van verskeie strukture, waaronder trusts, is belangrik om hierdie risiko’s te probeer isoleer.

Weereens kan daar gesien word dat die behoorlike gebruik van ’n trust voordelig kan wees om risiko te isoleer en bates te beskerm.

Daar kan verskeie stappe geneem word om te sorg dat jou trustsake op datum gebring word. Dit is egter belangrik dat jy nie wag tot insolvensie onafwendbaar is nie.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.