Geskryf vir Property Poser

’n Boom wat die grensmuur tussen twee erwe oorskry, is die wortel van die kwaad tussen bure.

Ons Property Poser leser skryf dat haar buurman ongelukkig is met die oorhangende takke van ’n immergroen-boom wat op die leser se erf naby die grensmuur staan. Hy beweer onder meer dat blare van dié boom sy geute verstop.

Hy eis dat die leser die oorhangende takke teen haar eie koste moet snoei, of selfs die boom heeltemal moet verwyder. Omdat die boom koelte aan die leser bied, wil sy dit nie laat uithaal nie.

Haar vraag aan ons paneel deskundiges is wie vir die oorhangende takke verantwoordelik is.

Sonet Pieterse van Sonet Pieterse Prokureurs & Akteversorgers in Port Elizabeth sê in terme van die gemenereg mag ’n grondeienaar bome en plante op sy of haar erf plant waar hy of sy goeddink.

Sy sê egter dat dié reg deur wetgewing beperk word, byvoorbeeld die Bosbouwet Nr 122 van 1984, munisipale regulasies en ordonnansies, asook die gemeenregtelike beginsels van oorskryding.

“’n Grondeienaar word ook beperk in sy of haar eienaarskap in dié sin dat hy of sy nie die grense van sy of haar erf bo- of ondergronds mag oorskry nie. ’n Algemene vorm van oorskryding wat onmin tussen bure veroorsaak, is dié van plante wat oorhang op ’n ander eiendom.”

Pieterse sê die reg wat die leser het om bome op haar eiendom te hê wat aan haar privaatheid en koelte bied, moet gebalanseer word met die buurman se reg om nie geteister te word daardeur nie.

“Die leser se buurman is dus inderdaad geregtig daarop om aan te dring dat sy die oorhangende takke moet verwyder,” sê Pieterse. “Indien sy nie gehoor gee nie, het die buurman die reg om oorhangende takke self te verwyder en dit aan die leser te oorhandig.”

Of hy ook gronde sal hê waarvolgens hy kan aandring dat die boom verwyder moet word, sal afhang van die mate waartoe die boom tans, of potensieel, skade aan die buurman se eiendom aanrig, sê Verity Bigara van Rawson Properties PE.

“Die leser sal egter ook daarop geregtig wees om minder dramatiese oplossings as die verwydering van die boom te oorweeg, indien dit ook die nodige verligting sal bring.”

Bigara sê, vanuit die inligting wat die leser verskaf het, blyk dit egter nie dat die boom, benewens die blare wat in die buurman se tuin val en die geute verstop, ander skade aan sy eiendom aanrig nie.

“Gevolglik sal die buurman nie gronde hê waarop hy op die verwydering van die boom kan aandring nie.”

Bigara sê indien die leser nie samewerking aan haar buurman gee deur die boom te snoei nie, het die buurman die opsie om vir ’n interdik aansoek te doen om haar te dwing om die plantegroei binne die perke van redelikheid te hou en enige oorskrydende plante te verwyder.

“Die buurman mag ook die leser aanspreeklik hou vir enige skade wat uit die oorhangende takke spruit.”

Sy sê dit sal in die beste belang van die leser en haar buurman wees om met mekaar saam te werk en ’n oplossing te vind wat albei se eienaarskap en regte om hul eiendom te geniet, respekteer.

Stuur jou eiendomsverwante vrae hier