So staan ek verlede naweek tussen ou skoolvrinne by my tienjaar-reünie.

Vir weke voor die tyd, so hoor ek, is daar vir ’n vale op Facebook rondgesnuffel om op hoogte van almal se doen en late te kom en, suspect ek, om te kyk wie nog in hul skooluniforms sou kon inpas al dan nie.

Sommiges het wel al in die vorige millennium besluit hulle kom nie, terwyl ander se moed hulle op die nippertjie begewe het. Dan is daar diegene wat nie kon wag om hul (nuutgevonde) status en kroos te kom afwys nie.

’n Reünie, besef ek nou, is iets waarheen jy nie meer as een keer elke dekade moet gaan nie. En dis ook een naweek elke dekade wat jy nie durf misloop nie!

Daar aangekom, is die affêre effe styf, maar “. . . niks wat ’n paar shooters nie kan regmaak nie,” laat hoor ons destydse doopkaptein uit die een hoek uit.

Interessant, en vreemd tog, dat die registerklas-sindroom selfs ná tien jaar nie behoorlik afgeskud is nie: die destydse A-klas kloek in die een hoek saam, terwyl die D’s hier neffens my ’n groepie vorm.

Gelukkig breek die eertydse CSV-voorsitter die ys toe hy vra of hy binne mag rook.

En stadig maar seker (en genadiglik) word die ere- en streepbaadjies een met die besef dat daar intussen baie water in die see geloop het.

Toe die ergste vreemdheid verby is, breek die fase aan waarvoor baie gewerk, ander gevrees, maar almal verwag het: die IT-bleeksiel, kom ons noem hom Kobus, reken hy kan dalk al op veertig aftree en Renier, ook ’n skuilnaam, wil nie dink hόé goed dit kan gaan as die resessie hom reeds só goed behandel nie . . .

Ons werk uit hoeveel ná skool in Engeland gaan werk het, wie al geskei is en watter klasmaats al in die tronk was en, glo my, elke groep het sy poachers!

Ina-introvert besluit vanáánd is die aand wat sy van haar gaan laat hoor en ’n paar rebelle van ouds staan buite en wonder hoekom hulle tog besluit het om te kom.

Die tradisionele skooltoer word op ’n feestelike manier aangepak: binne minute word die 1999-weergawes van ons weergebore en almal spring om eerste in ’n skoolbank te kom vir die fotosessie.

Aan die einde van so ’n naweek stap ’n mens weg met méér as net die wete dat jy ouer word.

Hoe mens ookal dié som uitwerk, dié gedig wil ontleed, by so reünie staan mens by een van daardie pitstops in jou lewe wat jou forseer om terug te kyk na die berge en dale waaroor jy intussen is. En jy verlang na die dae toe jy álles geweet het, want, op 28, besef jy, weet jy elke dag bietjie minder.

Matrieks landwyd is tans besig met hul rekordeksamens en oor bietjie meer as twee maande is hulle ook klaar met die dinge van ’n kind.

My wens vir hulle is dat hulle oor tien jaar ook om ’n braaivleisvuur sal kan staan en sê: “Dít was net die beste”.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited