Soos dinge nou gaan, wil dit amper lyk of Julie die afmetings van ’n nasionale munisipale stakingsmaand begin aanneem.

Dis asof dit deel van die werkerskultuur geword het om in dié maand oor salarisverhogings te betoog. Ek kan my dit beswaarlik indink dat sulke goed te midde van die wêreldwye ekonomiese krisis gebeur – of selfs deur werkgewers geduld word.

Dit sou vir my meer sin gemaak het om in dié tye ’n lae profiel te handhaaf – onder die radar te beweeg, by wyse van spreke. Want netnou besluit die werkgewer hy kan jou nie meer bekostig nie en raak van jou ondankbare agterstewe ontslae.

Die koek is mos net só groot en my beperkte wiskunde-kennis sê vir my dat indien sommige werkers se salarisse verhoog sou word, ander in die pad gesteek sal moet word om die som te laat klop.

Wat my verder laat kopkrap, is dat ’n inflasie-verwante verhoging (en, let’s face it, enige verhoging is tans ’n bonus) jou in min of meer dieselfde finansiële posisie plaas as waarin jy was toe jy met ’n glimlag op jou gesig daai dienskontrak onderteken het.

Die enigste manier (waarvan ek bewus is) om jou posisie merkbaar te verbeter, is om vir ’n ander, beter pos binne of buite jou huidige maatskappy aansoek te doen. Is dit dan nie hoe die vryemarksisteem behoort te werk nie?

Dit wil egter vir my voorkom asof die reëls in die private en openbare sektore hemelsbreed verskil. In die een is dit elke man vir homself, terwyl die fenomeen van collective bargaining sy hardegat-kop in laasgenoemde milieu uitsteek.

Dis nou wanneer unies sommer namens ’n gros werkers vir ’n beter toekoms onderhandel. Almal word onder dieselfde kam geskeer – hetsy jy nou ’n verhoging verdien al dan nie.

Dis vir my vreemd, want die slimmes en flukses se insette word myns insiens deur so ’n “standaardverhoging” misken, terwyl die dommes en luies heerlik saamsous.

Indien die unie natuurlik nie sy sin kry nie, staak sy lede eenvoudig en dan het hulle die arme werkgewer aan die spreekwoordelike . . .

Ná ’n paar strategiese aan- en teenaanbiedinge, word ’n middeweg gewoonlik sonder te veel bloedvergieting gevind, en siedaar, middelmatigheid seëvier weereens.

Dié benadering kan onmoontlik nie uitnemendheid en dienslewering in die langtermyn bevorder nie – eerder frustrasie en ontnugtering aan albei kante van die munisipale draad.

Dít het dan ook vanjaar vir ’n kinkel in die stakingskabel gesorg toe die munisipale werkers wraggies deur diegene wat oor munisipaliteite se swak dienslewering kla, voorgespring is. En hierby berus ek my argument.

Hoe dit ookal sy, munisipale stakings is tragies deel van die South African way en mens moet seker ook aanvaar dat dit elke Julie ’n belangrike doel dien.

Is dit nie hoeka volgende Julie Wêreldbekermaand nie?

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited