Mexikaanse griep – beter bekend as varkgriep of die gevreesde H1N1-virus – is op almal se lippe en waarskynlik in meer liggame as wat ons dink.
Maar toe die eerste gerugte van ’n moontlike pandemie die ronde begin doen het, het die meeste Suid-Afrikaners (of was dit net ek?) hulle maar min daaraan gesteur.
Inteendeel, die erns van die saak is vinnig deur grappe – wat net so vinnig soos die virus uitgebroei en versprei het – verdoesel.
Boonop was daar destyds nét soveel bohaai oor voëlgriep en kyk hoe min impak het dit hier by ons gehad.
As ons wel ongelukkig genoeg is om blootgestel te word, sal moderne mediese tegnologie mos tot ons redding kom – natúúrlik . . .
Ironies genoeg, is dit juis die moderne era waarin ons leef wat vleuels aan virusse en hul eensellige vennote gee. Dis mos alledaags om vandag saam met mense te kuier wat gister nog op ’n ander kontinent was.
Erger nog, sulke persone het vir ure lank ’n beknopte spasie met ’n swetterjoel mede-passasiers gedeel (waarvan baie die een of ander kwaal, bakterie of virus onder lede het), en waar kry mens dan nou ’n beter teelaarde?
Hulle is as’t ware sitting ducks vir ’n virus wat op soek is na ’n gasheer en so word Mexiko se probleem, almal se probleem.
Baie mense, ek inkluis, was nogal verbaas hoe erg varkgriep by gegoede skole in die Wes-Kaap uitgebreek het. Juis, dink ek, omdat sulke mense meer mobiel is.
Die groot getalle minder gegoede mense met lae immuniteitstelsels, is potensieel ’n groot kopseer vir die gesondheidsowerheid. Maar, groter nog, is die mate van onkunde wat oor dié virus heers.
Daar is sowaar mense wat glo dat ’n varktjoppie jou kan besmet! Vir my was die kersie op die koek egter toe ’n skoonmaker by ’n maatskappy vroeër vandeesweek vir my vriendin gevra het of dit dan waar is dat mens ’n krulstertjie groei as jy dit onder lede het . . .
Maar, selfs vir die ingeligtes, bly daar vrae. Een daarvan is hoe dit dan moontlik was dat ’n besmette jong man deur die gesondheidstelsel se vingers kon glip?
Wat vir my kommerwekkend is, is berigte dat die virus dalk kan begin weerstand opbou teen die middel wat tans daarvoor voorgeskryf word en dat dit teen volgende jaar se griepseisoen selfs méér dodelik kan wees.
Kenners voorspel hoeka dat ons weer due is vir ’n Groot Griep en nou hou almal asem op om te sien of varkgriep hom as die skuldige een gaan manifesteer.
Hoe dit ookal sy, voorkoming bly steeds die beste behandeling – so laat ons maar vir daai griepinspuiting buk, vitamiene sluk en vir ’n vale koes as iemand in jou rigting hoes of proes.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited