Die skoolkwartaal is weer in volle swang en ek is oudergewoonte elke oggend amper laat – let wel, nie amper elke oggend laat nie!
Asof dit nie genoeg emosionele energie verg om in dié winteroggende myself gelig te kry nie, word my dag verder versuur deur die hordes slordige leerlinge wat op straathoeke en by busstoppe en skoolingange saamdrom.
Ek maak myself dalk so bietjie aan veralgemening skuldig, maar die prentjie wat ek daagliks aanskou, is beslis nie ’n Picasso nie.
Daar is oorringe by die dosyne, uithanghemde, gerekte truie, wit kouse by grys broeke, kettings en armbande, gekleurde hare en vreemde oorbaadjies. Baie kloek openlik en, op die oog af, traak-my-nie-agtig om sigarette saam.
Eintlik is ek bitter positief oor die jeug en dit onstel my net om (sommige) kinders só doelloos en sonder rigting te sien. Wat my nóg meer bekommer, is dat baie van hulle uit voertuie klim waarin hul ouers verder aanry werk toe . . .
My gemoedstoestand is skoon versteur teen die tyd wat ek in die personeelkamer neerplof, soveel so dat ek dit al oorweeg het om met ompaaie werk toe te ry sodat ek nie my gees hieraan hoef bloot te stel nie – maar dan sal ek wel amper elke oggend laat wees!
Ek glo in netheid, selftrots, reëls sonder grys areas en bowenal respek vir die sisteem – waardes wat my ouers en onderwysers liefdevol (liefde het natuurlik verskillende personas!) en met geduld by my ingeprent het.
Dit het niks met konserwatief-wees te doen nie. Dit gaan oor reg en verkeerd. Om “paslik te leef”, soos die bekende essayis, Michel de Montaigne, dit al in 1580 neergepen het.
Die beroepslewe gaan dit ook vereis. Daarom is dit belangrik dat leerlinge die diepere waardes agter reëls oor iets soos skooluniforms onder die knie kry.
Kruisig my vir die volgende stelling, maar ek wil en gaan dit sê: ouers is (en ek veralgemeen weer) die groot sondebokke. Hul werk en verantwoordelikhede is nie net van nege tot vyf by hul firmas nie – dit begin vroegoggend en eindig laataand by hul kinders.
Ek wil my selfs verstout om te sê dat hul belangrikste werk, tuis is. Hoe kinders lyk en optree, word myns insiens (ten minste gedeeltelik) bepaal deur dit wat ouers toelaat al dan nie.
Hoewel mens seker moet aanvaar dat peer pressure ’n rol by selfs die bes opgevoede kinders kan speel, is dit waarskynlik juis daardie kwaliteite wat hulle later sal help om ’n gesonde balans te vind.
Ek wil dit nou nie soos tuiswerk vir ouers laat klink nie, maar met die nuwe kwartaal wat nog ver voor ons uitstrek, pleit ek met ’n ieder en ’n elk om meer op hul kinders te fokus.
Die kanse is goed dat jou Jannie of Sannie se vreemde gedrag reeds ’n noodkreet om hulp is.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited