Wanneer tannie Dalene haar kaste en haar huis regpak, sê sy sy roer haar rommel.

Met dié bedoel sy natuurlik dat sy haar aardse besittings rondskuif om orde te skep en dis ook ten tye van sulke sessies dat sy dit soms oor haar hart kry om van onnodige snuisterye ontslae te raak.

Toe my kleuterskoolvriendin se ouma Hekroodt oorlede is, is sy saam met haar ma na die eenslaapkamerwoonstel om ouma Hekkie se besittings uit te soek. Haar ouma is nie daar oorlede nie, maar tog het dit vir my vriendin gevoel of sy gewéét het dat hulle in haar goed rondkarring.

Dit was haar eerste kennismaking met die dood en sy het in daardie stadium gedink mense gaan dood om dié wat agterbly, te straf.

In The Curious Case of Benjamin Button vertel ’n bejaarde vrou kort voor haar dood vir Benjamin (en die res van ons) dat mense vir wie ons lief is, juis sterf sodat ons kan besef hoeveel ons vir hulle omgegee het. En, het iemand eenkeer gesê, “sodat ons kan leer om mekaar te waardeer terwyl ons leef”.

In ’n reusagtige paradoks, klap die skindertonge graag oor medemens, kind, kraai en beroemdes terwyl hulle leef, maar dit word gewoonlik heeltemal omgekeer wanneer hulle tot sterwe kom.

In later jare is Michael Jackson bykans uit die samelewing verban weens klagtes van kindermolestering en ’n vreemde leefwyse. Dat hy ’n kunstenaar van formaat in die jare tagtig was, is nie in dispuut nie, maar die heldeverering ná sy dood laat mens tog wonder.
 
Net so kon Vincent van Gogh nie sy skilderye in sy leeftyd verkoop kry nie, maar ná sy afsterwe het dit só gesog geraak dat meeste daarvan nou agter dik glas in kunsmuseums en privaatversamelings hang.

Dit het Hansie Cronjé se lewe gekos alvorens hy weer as krieketheld in ere herstel is. In die tyd voor sy dood het dit behoorlik gegons en moes sy ore seker deurgaans gejeuk het.

Daar leef duisende eietydse helde en legendes onder ons – van beroemdes tot die skaam Emily Hobhouse-tipes – wat geen erkenning vir hul weldade kry nie. (Dit laat my dink aan dorpsrade wat vroeër jare baie mooi gedink het voor hulle ’n straat na iemand vernoem het wat nog gelewe het, want sê nou net die persoon beland in die tronk of sy reputasie word op een of ander wyse geskend?)

Net soos tannie Dalene van tyd tot tyd haar huis regpak, dink ek dit is broodnodig dat ons almal gereeld die “rommel” in ons koppe roer. Of dit deur meditasie, selfhelpboeke of terapie is: solank mens voorraad opneem, prioriteite rondskuif en van onnodige bagasie ontslae raak.

Want, soos my vriendin se ouma Hekkie, kan ons geen aardse besittings saamvat wanneer ons doodgaan nie. Ons kan wel ’n testament vol filantropie, vergewingsgesindheid, vriendelikheid en goedhartigheid nalaat.

Dit is aan dié unsung heroes wat ek vandeesweek hulde wil bring. My wens is dat hulle reeds in hul eie leeftyd erkenning mag geniet.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited