Verlede week het ek hulde gebring aan weldoeners wat, indien hulle gelukkig is, postuum erkenning vir hul lewensbydraes kry.

Min word in hul eie leeftyd vereer en oudpresident Nelson Mandela is ongetwyfeld die grootste antitese van die unsung hero.

Terwyl Amerika se eerste swart president, Barack Obama, onlangs op sy eerste sub-Sahara-safari ’n blitsbesoek aan Ghana gebring het, het Suid-Afrika se eerste swart president die sewende jaarlikse Nelson Mandela-lesing in die Johannesburgse stadsaal bygewoon.

Nelson Mandela – vryheidsvegter, menseregte-aktivis, Nobelpryswenner, politieke ikoon, of net Madiba – het in een van sy bont hemde aandagtig gesit en luister na ’n rede wat deur professor Muhammad Yunus gelewer is.

Laasgenoemde – sélf ’n Nobelpryswenner – was duidelik met ontsag vervul toe hy gesê het dat dit vir hom ’n eer is om voor die “wonderlikste man op aarde” te staan.

In Ghana, het Obama ’n draai by die berugte Cape Coast-kasteel – ’n slawepos vanwaar mense uit bedompige kelders na Amerika en Europa “uitgevoer” is – gemaak. ’n Geraamde 20 miljoen van Afrika se seuns en dogters het tydens dié interkontinentale slawehandel met hul lewens geboet.

Hoewel Obama se Afrika-besoek sy affiniteit met die moederkontinent wys, is kritici se monde vol vlymskerp kommentaar wat dit wil laat klink of sommiges dink dit was ’n blote publisiteitsveldtog.

Ontleders meen die feit dat sy pa per vliegtuig van Kenia na Amerika is om daar te  studeer, en nie aanboord ’n slaweskip gedok het nie, kan straks maak dat hy nie deur sy landgenote as ’n volbloed African-American erken word nie.

Ná 27 jaar in die tronk met ander politieke gevangenes wat daaraan toegewy was om vryheid en gelykheid vir alle Suid-Afrikaners te bewerkstellig, is ons eerste swart president in teenstelling met sy Amerikaanse eweknie inderdaad die verpersoonliking van die struggle.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het by geleentheid selfs gesê dat ons land hom waarskynlik die jaloesie van elke nasie op aarde op die hals haal. Want, het hy gevra, wie anders kan ’n “morele reus” soos Nelson Mandela sy eie noem?

Terwyl Obama se inhuldiging tereg wêreldwyd opslae gemaak het en Jood, Griek, Moor en Mohammedaan ’n blik op ’n beter toekoms vir Amerika gegee het, is Nelson Mandela reeds 67 jaar lank besig om hom aan nie net ’n beter Suid-Afrika nie, maar ’n beter lewe vir elke mens op aarde te beywer.

Deur sy menslikheid, natuurlike leierskap en nederigheid het hy die harte en verbeelding van miljoene aangegryp en sy grootste nalatenskap sal waarskynlik hoop vir die toekoms wees.

Wanneer hy môre sy 91ste verjaardag vier, sal die mense van Qunu in die Oos-Kaap – waar Nelson Rolihlahla Mandela gebore is – saam met mense in alle uithoeke van die aarde hulde bring aan ’n mench sonder weerga.

Niemand sal egter kan kers vashou met die ewige huldeblyk wat die mense van Nelson Mandelabaai gebring het nie.

Enkosi Madiba.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited