Ek het my nog altyd verwonder aan die emosie wat die afsterwe van vermaaklikheidsterre of ander bekendes wat ons nooit eens geken het nie, kan ontlok.

So het Michael Jackson-bewonderaars, en selfs diegene wat nie veel ooghare vir hom gehad het nie, vir dae voor hul skotteltelevisie vasgenael gesit en wag vir elke greintjie nuus wat meer lig op die Koning van Pop se dood kon werp.

Dit het my weer verstom hoe die voorste nuuskanale inderhaas kundiges en aanbieders op die toneel kon kry en hoe hulle ten spyte van gebrekkige inligting, die storie van alle kante gedek het.

Ek haal veral my hoed af vir die aanbieders wat dwarsdeur die nag en dag gestaan en onderhoude voer en oor dieselfde brokkie nuus gegorrel het.

Jan Publiek het dit alles opgeraap en hulle met ’n stink spoed na musiekwinkels gehaas om seker te maak hulle kon nog vir oulaas hul hande op een van sy CD’s (selfs dié wat al stof begin vergader het) lê.

Een van die plaaslike radiostasies het selfs berig dat agt van die voorste tien most downloaded liedjies op die internet daai naweek, syne was.

Behalwe vir sy musiek, was Wacko Jacko seker net so berug vir sy vreemde gedrag. Hy het immers in ’n suurstoftenk – wat meer soos ’n deursigtige doodskis gelyk het – geslaap en per geleentheid sy baba oor ’n hotel se balkon gehou.

Ongeag sy roem en (vergange) rykdom, was hy ook maar net mens; iemand met vrese en onsekerhede soos ek en jy. Volgens berigte het hy aan sy gewese vrou, Lisa Marie Presley, voorspel dat hy dieselfde vroeë dood as haar pa sou sterf en hoe hy dit vrees.

Ironies genoeg, glo baie dat dit die stres van sy veelbesproke This is It-toer was wat vir hom net te veel geword het. Daar is weke terug al bespiegel of hy – ná ’n paar jaar se kluisenaarsbestaan – fisies wel die mas in dié reeks van vyftig konserte sou kon opkom.

Al die kaartjies was reeds uitverkoop en dit was waarskynlik die druk om nie teleur te stel nie en die vrees van verdere mislukking en bespotting, wat hom finaal geknak het.

Die dood van iemand soos hy – ’n ikoon van sy en enige ander tyd – laat mens opnuut na jou eie lewe kyk. Dit laat jou besef dat elke dag kosbaar is, dat geld nie geluk kan koop nie en dat pynpille en ander maniere van ontvlugting nie die seer werklik wegvat nie.

Dit leer vir mens dat net jý verantwoordelik is vir jou eie geluk. Ongeag jou omstandighede en die magdom vyande wat jou graag wil sien val, is jý die een wat moet kies of jy ’n slagoffer of oorwinnaar gaan wees.

En ironies genoeg is dit presies wat die lirieke, “I’m starting with the man in the mirror”, in een van Jackson se bekendste liedjies vir ons sê.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited