’n Vriendin vertel die ander dag dat sy eens ’n ou met hare so lank soos Simpson s’n gehad het alvorens laasgenoemde voor Delila geswig het.
Dié takhaar was maar ’n diamond in the rough, maar (natuurlik) met ’n hart van goud. Min dinge het hom afgeskrik, maar toe ’n ander vriendin met haar twee jaar oue dogtertjie kom kuier, ontdek “Simson” ’n heilige vrees vir die mens in sy suiwerste vorm.
Dis mos die tyd in jou lewe wanneer jy duidelike grense stel oor wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. En as jy nie jou sin kry nie, sit jy ’n keel op om te kyk of iemand nie dalk tog maar vir jou daai sweetie sal koop of jou met die messe in die tweede laai sal laat speel nie.
Vreesloos en selfversekerd, maak klein mensies mos geen moordkuil van hul harte nie. Met ’n stappie op die strand gaan staan die klein blonde dingetjie toe vlak voor Simson, strek haar arms uit en beveel eenvoudig, “Op”.
Hy was ietwat verbouereerd en het nie presies verstaan wat hom te doen staan nie, totdat my vriendin dit vir hom vertaal: “Sy wil hê jy moet haar dra”.
Effe verskrik, maar darem nog bereid om sy girlfriend te beïndruk, het hy toe die dogtertjie in een moeitelose beweging op sy skouers getel.
Ná ’n hele ent se gestap, het Simson vir die dogtertjie gevra of hy haar maar kon neersit. Haar antwoord was eenvoudig, “nee dankie”.
In hierdie vroeë jare skop kleintjies woes teen die prikkels en probeer hulle hul grense deurgaans verskuif. Hoewel goeie maniere en mededeelsaamheid beslis iewers ingeploeg moet word, verloor ons ongelukkig tonne kreatiwiteit, die moed van ons oortuiging en selfvertroue op die kronkelpad na grootmens word.
Ons leer met harde stampe dat ons dade gevolge het waarvoor ons verantwoordelikheid moet aanvaar.
Só skaaf die lewe ons (gewoonlik darem) tot volwassenheid. Pligsbesef word sterker en ons neem meer verantwoordelikhede aan soos die jare aanstap.
Die kuns is egter om ’n balans te probeer handhaaf en nooit die klein kindjie wat steeds in jou woon, heeltemal te versmoor nie.
Met tyd raak ons meer oneerlik met onsself. Toe jy klein was, het jy bloot die kos weggestoot as jy genoeg gehad het.
Later het jou ma jou geleer as julle by tannie Henna gaan eet, moet jy al jou kos opeet, omdat dit swak maniere is om dit nie te doen nie.
Nou aanvaar ons uitnodigings na geleenthede waarheen ons nie wil gaan nie, aangesien ons niemand in die gesig wil vat nie. Ons sê “ja” as iemand vir ons ’n guns vra en as jy weer kyk, is jy heeltemal verstrengel in ’n dolle gejaag.
Hierdeur probeer ek nie sê dat naastediens verkeerd is nie, inteendeel, dit is juis ’n teken van ware volwassenheid – solank dit nie ten koste van jouself is nie.
Oorweeg jou uitnodigings en versoeke dus versigtig en onthou dat dit soms nodig is om bloot – ala Emsie Schoeman – te sê, “Ek sou graag wou, maar ek kan ongelukkig nie”.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited