As jou geld sommer net so uit jou bankrekening kan verdwyn, is dit seker tyd dat ons dit weer onder die matras wegsteek.
Dit was my eerste gedagte toe ’n vriendin en nog ’n kennis onlangs onder dié nuwegenerasie-bankrowers deurgeloop het.
Die een dag was hul geldjies nog veilig in die rekening en die volgende net weg (darem nie spoorloos nie, want die bank kon vasstel waar dit spandeer is, maar nie deur wie nie).
Boonop het hul kaarte nooit hul sig verlaat en was daar niemand wat hul privaatruimte by die kitsbank betree het om hul geheime nommer te verkry nie.
Nou, redeneer ek, as hul geld onder hul matrasse was, sou die boewe darem eers by hul huise moes inbreek alvorens hulle hul hande daarop kon lê – en dan het hulle hopelik nog ’n paar vingerafdrukke en ander leidrade ook gelos.
Soos die meeste stories ook maar stertjies kry, is daar bespiegelinge dat hierdie spesialisdiewe spesiale masjiene het wat van ’n afstand af die inligting op jou kaart kan skandeer (amper soos met Bluetooth) – selfs van die motor langs joune af.
Hoe die swendelaars dit regkry, blyk net so onduidelik te wees soos die banke se antwoorde oor wanneer die slagoffers hul geld gaan terugkry. Die bogenoemde kennis is sowat R40 000 kwyt (daar was kort tevore ’n groot pensioen-uitbetaling) en my vriendin (genadiglik) net R2 000.
Gelukkig was laasgenoemde se koskaste reeds vol en het sy al haar rekeninge betaal gehad toe die skim in die nag (of dag) toeslaan.
Die vraag is hoe oorleef vandag se gemiddelde, ekonomie-benewelde mens sonder ’n sent op sy naam tot die volgende betaaldag? Veral as hy nie die trotse eienaar van ’n Woollies-kaart is nie.
My vriendin (wie se glas nog altyd halfvol was) is egter heel filosofies oor die hele affêre. Sy sê sy het in net drie weke geleer met hoe min mens werklik kan klaarkom.
Haar sosiale lewe het desondanks ook ’n groot hupstoot gekry as gevolg van vriende wat haar steeds met ete-uitnodigings en oorskietkos oorval. Volgens haar het dit eintlik lanklaas so goed gegaan.
Dis alles goed en wel, maar wat van die pensioentrekker wie se karige geldjies weg is “tot die ondersoek afgehandel is” en nie ’n kind of kraai het om op te steun nie?
Wat my verstand verder te bowe gaan, is dat dié rowers oor die intellektuele vermoëns beskik om banke se gevorderde tegnologie te omseil, maar nie hul talente kan of wil inspan om ’n eerbare werk te bekom nie.
Hulle het wel blykbaar genoeg tyd op hande om te bepaal watter kitsbanke sonder kameras is (om jou geld te steel) en watter winkels nie kameras het nie (om jou geld te spandeer).
En, ter afsluiting, hoe is dit moontlik dat banke wat nie kan verseker dat ons geld veiliger by hulle as onder ons matrasse is nie, elke jaar met vroom gesigte hul administratiewe fooie opjaag?
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited