Ek sal nooit die dag vergeet toe ek die eerste keer die sleutel in my (nie so splinternuwe) motortjie gedraai het nie.

Dit was nie net die sleutel van my motor nie, maar vir my ook die sleutel na ’n lewe van onafhanklikheid.

Mans se liefde vir hul wiele – of daar nou twee, vier of veelvulde daarvan is – is niks vreemds nie. Baie sukkel om so liries oor die vrou in hul lewe te raak as wat hulle oor hul ryding is.

Dis ’n baie spesiale verhouding – die enigste een waarin hulle for better or worse die baas is. Want daar is nooit enige teenkanting of terugpratery nie en wanneer hulle besluit om hul regtervoet neer te sit, is sy altyd gewillig om saam te speel.

Dis dan ook geen wonder dat die Franse woord vir motor – la voiture – vroulik is nie.

Maar ek het ook gou agtergekom ’n voertuig gee sommige mense nie net vryheid van beweging nie, maar bevry hulle ook van hul inhibisies en helder denke. Wanneer sulke mense hul motors aansluit, is dit asof hulle terselfdertyd hul maniere en sosiale vaardighede afskakel.

Daar word oombliklik vergeet hoe om jou beurt in ’n ry af te wag, om bedagsaamheid  teenoor ander padgebruikers te openbaar en gebaretaal word terstond ’n nuwe dialek van Afrikaans én Engels.

Dis amper asof sulke motoriste ’n misplaasde gevoel van mag ervaar – of hulle hulself nou in ’n tjor of ’n vooruitstrewende 4×4 bevind. Hoewel, dit wil met tye vir my voorkom asof dié verskynsel direk eweredig aan die grootte van die voertuig kan wees . . .

Ek het al male sonder tal gewonder of padbuffels nog so sterk in hul oortuiging sou wees as mens hulle agter die stuur sou uitruk en hulle ’n bietjie meer exposed is.

’n Vriendin, wat elke oggendspitstyd Kaapweg van die Baai se westelike voorstede af aandurf, het my die antwoord hierop gegee.

Sy het ’n broertjie dood aan diegene wat die “audacity” het om teen die kant van ’n ry af te suiker en dan van die goedgesindheid van ander motoriste misbruik te maak om voor in te druk.

Om dinge te vererger, is een van die gereelde “oortreders” hoeka ’n kollega. Toe sy dit later nie meer kon uithou nie, het sy hom een oggend – toe sy ’n kwartier ná hom by die werk opgedaag het – voor stok gekry en gevra of hy dan geen skaamte het nie.

Hoe hard sy ookal probeer het om hom tot ander insigte te bring, kon of wou hy geen fout met sy optrede sien nie.

Uit skone ontsteltenis, dreig sy nou om een oggend op die punt te gaan staan waar hulle indruk en vir oortreders ten aanskoue van almal te wys om hul beurt af te wag.

Maar, helaas, sê sy, die kanse is goed dat sý die een sal wees wat met ’n stewige boete uit die stryd sal tree . . .

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited