Sang was van kleintyd af een van die groot passies in my lewe en met die jare het die magic van musiek onlosmaaklik deel van my geword.
Ek verwonder my altyd hoe musiek mense van verskillende kulture en generasies kan meevoer en selfs bymekaar bring, hetsy dit nou ’n eeue oue opera – waarvan jy nie eens die woorde verstaan nie – of ’n klassieke treffer van Simon & Garfunkel is.
Wie van ons dink nie met ’n tikkie nostalgie terug aan ’n spesiale tyd of persoon in ons lewens wanneer ’n sekere liedjie – of dit nou sewentigs, tagtigs, hip-hop of boeremusiek is – speel nie?
Dit was egter ’n “gelykenis” in ’n e-pos (een van daai motiveringstipes) wat my opnuut laat besef het dat musiek nie net terapie vir ’n oormoeg, oorgestimuleerde generasie is nie, maar dat sang ’n sekere lewensuitkyk verbaliseer.
Dié storietjie het vertel hoe die mensdom meer soos voëltjies behoort te wees. Hulle bou al kwetterend en met groot moeite en presisie hul nessies uit enige takkie of grassie wat hulle bymekaar kan raap en skraap, net vir die eerse windvlaag om dit weer fyn en vlenters te waai.
En dan bou hulle maar weer, al singende, van vooraf.
Nou die oggend op pad werk toe het ek weer in ’n verkeersknoop gesit, warm onder die kraag oor dié sinnelose vermorsing van tyd. Buite het die herfsreën in vlae neergesif en die motor se verwarmer was volsterkte aan om die naderende winter te probeer verdryf.
En dis toe dat ek my verwonder aan twee huishulpe wat stroom-op hier neffens die kar verbystap.
Hulle moes seker minstens, het ek besef, twee ure vroeër as ek opgestaan het om die bus of (nog erger) taxi, of taxis, te haal om betyds by die werk te wees – en steeds was hulle geesdriftig op hul langsame tog.
So het hulle al singende voortgestap en as dit nie vir die kondensasie in hul asems en die slierte water was nie, sou ek kon sweer hulle bevind hulself midde-in ’n lieflike somersoggend.
Die sang was nie net terapie vir hul eie siele nie, maar ook ’n lewensles vir diegene wat hulle gehoor het: om aan te hou sing, ongeag jou omstandighede.
Net daar het ek die radio harder gestel en met ywer begin saamneurie terwyl ek my seëninge een vir een getel het.
En wat is dan nou lekkerder en meer inspirerend as om uit volle bors te sing – of jy nou toondoof of ’n tenoor van formaat is, en of jy onder die stort of langs die sportveld staan.
Miskien moet ons die volgende keer wat die lewe so effens druk, besef hoe gelukkig ons is om steeds pragtige klanke te kan hoor en ’n stem te hê om mee te sing.
Lukas Maree het dag en nag langs sy sangervriend Matthys Roets se bed gewaak ná sy onlangse motorfietsongeluk. En wat was die eerste ding wat hy gedoen het toe sy vriend bykom?
Hy het sy kitaar gaan haal en gesing.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited