Dis moeilik om te glo dat dit nou presies ’n jaar gelede is sedert loadshedding, oftewel beurtkrag, deel van Baaienaars se bestaan geword het.

Gesinne moes hul huislewe eensklaps aanpas rondom wanneer die krag aan of af sou wees.

Alledaagse take soos kosmaak en huiswerk doen, het haarfyn beplanning geverg. Om nie eens te praat van vroeg opstaan om die motor uit te trek sodat dié nie agter elektriese motorhuisdeure of -hekke gestrand sou wees nie.

Baie gesinne – dis nou diegene wat liewer op iets positief wou fokus – was vinnig om te vertel hoe beurtkrag hulle hegter saamgesnoer het met heerlike geselsies en speletjies by kerslig.

Ander het die tyd verwyl deur hul gesinne uit te brei. Ek het met verstomming onlangs in ’n koerant gelees dat ’n hele klompie loadshedding-babas hul opwagting in Desember gemaak het.

Ek was amper net so verbaas toe die mense van Earth Hour ons gevra het om ons ligte vir ’n uur af te skakel, maar nie ook ons televisies nie – juis op ’n Saterdagaand, wanneer ons op ons mees ontspanne en aan die kuier is.

Want ons almal weet mos nou wat gebeur as die mensdom nie televisie kan kyk nie. Dink net watse invloed nog ’n bevolkingsontploffing op ons natuurlike bronne sou hê . . .

Terwyl ek toe daai Saterdagaand so in die stikdonker van my huis oor die res van die stad se liggies (dié wat nog aan was) gesit en tuur het, kon ek nie help om te wonder wat van Eskom se verskriklike kragnood geword het nie.

Beurtkrag het ontploffings by twee kragstasies veroorsaak voor hulle en die munisipaliteit besef het hoeveel dié “besparing” hulle eintlik kos.

Maar, business is business. Die produk wat aan ons verskaf word, is deesdae soos ’n bedreigde spesie en daarom het Eskom eenvoudig sy tariewe verhoog.

Die argument was dat hulle kapitaal nodig gehad het vir nuwe infrastruktuur (wat hulle eintlik tien jaar gelede al moes opgerig het).
 
Nou soek Eskom vanjaar  ’n verhoging van meer as 20 persent. Skynbaar wéér om te belê in infrastruktuuur . . .

Ons het nog nie eens die vrugte van laasjaar se 36 persent-verhoging gepluk nie, behalwe miskien dat beurtkrag, vir nou, iets van die verlede is.

Hoekom word verbruikers nie beter ingelig oor hoe die geld in die nuwe infrastruktuur belê word nie? Kontroversieel of te nie, ons hoor ook niks meer oor die tweede kernkragstasie wat na bewering vir die land beplan word nie.

Almal weet kragsentrales word nie oornag gebou nie, maar sê tog net vir ons waarheen die geld gaan. Of gaan dit in ’n bottomless pit in, soos wat talle dink ons kragvoorraad is.

Ek dink Eskom moet mense eerder aanspoor om hul huise met kragopwekkers toe te rus as om hulle finansieel te straf.

Maar hoe gaan hulle dan geld maak as ons ons krag van die wind, son en ander opwekkers kry? Dit maak mos eenvoudig nie business sense nie.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited