Rio het sy karnaval, Pamplona sy bul-stormjag en in Port Elizabeth kom honderde duisende mense die afgelope 19 jaar oor die Paasnaweek bymekaar vir een van die vasteland se grootste watersportfeeste.

Vanjaar se MTN Nelson Mandelabaai Splashfees, wat van 10 tot 13 April op Hobiestrand plaasvind, skop sommer ook die stad se amptelike aanloop tot die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi met ’n reuse vyf-aan-’n-kant strandsokkertoernooi af.

Doug Pudney van Frontier Events, wat die sokker organiseer, sê wedstryde gaan volgens Fifa se amptelike reëls gespeel word.

Hy sê ná die rondomtalie-fase op die Saterdag, sal die voorste 32 spanne in elke afdeling deur middel van ’n trekking die naam van een van die 2010 deelnemende nasies aanneem. Dié spanne neem dan op die Sondag aan die uitkloprondes deel.

Pudney sê dié formaat is gekies om voorbrand vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi te maak, waarvan die metro ’n gasheerstad is.

Michael Zoetmulder, die fees se watersportkoördineerder, sê vanjaar is daar oudergewoonte weer vele hoogtepunte, waaronder een van die bene van die Wêreldbranderroei-reeks.

“Roeiers van regoor die wêreld sal op die openingsdag oor ’n afstand van tussen 20 en 30 kilometer meeding.” Dié wedren sal na verwagting (afhangende van die windrigting) by Sardiniabaai begin en op Hobiestrand eindig.

Een van die Baai se voorste langafstandswemmers, Kyle Main, sal volgens Zoetmulder op Paas-Maandag ’n epiese solo-swem onderneem.

Hy gaan probeer om die eerste persoon te raak wat van Hobiestrand om die bekende klokboei (bell buoy) en terug swem en hy gaan dit twee keer na mekaar doen. Die totale afstand is 14 kilometer en dit behoort hom sowat vier ure te vat.

Zoetmulder sê ander watersport sluit Tavcor Embassy VW se ontwikkelingsmyl en die PE Beachfront Lodges se koning en koningin van die Baai-swemitem in. Meer as 20 bote sal op die Sondag aan die Algoabaai Seiljagklub sê regatta deelneem.

Ander sport en sports sluit ’n nasionale strandvlugbaltoernooi, fietswedren en rofstoeiers van WWP Thunderstrike in. ’n Vuurwerkvertoning, talentkompetisie, ’n soektog na die Baai se beste klub-platejoggie, kindervermaak en ’n hipnotiseur sal verder tot die feestelikhede bydra.

DJ Ossewa, Mafikizolo, Melanie Scholtz en Flash Republic met Tamara Dey is die ankerkunstenaars op die onderskeie dae.

Sowat 150 kos- en ander stalletjies, waaronder ’n handwerktent waar kunshandwerkers ten aanskoue van die publiek hul items sal vervaardig, sal dit ook ’n ware inkopiefees maak.

Volgens die feesorganiseerder, Glenn van Eck, is die Splash by uitstek ’n watersportgesinsfees. Hy sê die program begin daagliks om 10vm wanneer die jongspan saam met ou bekendes soos Gerry die dwergnar, Rocket Man, Snake Man en vele ander kan kuier.

Vir meer inligting, besoek www.splashfestival.com of bel die feeskantoor by 041 393 4844.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

MTN Nelson Mandelabaai Splashfees