Dis soos ’n droom, maar dis die werklikheid. Dis soos slaap en tog is dit beslis níé.
Dit kan help om alledaagse probleme, soos oorgewig en verslawing, te oorbrug en dis almal beskore wat ontvanklik is daarvoor.
As dít te goed klink om waar te wees, sal dit net ’n paar minute in Stephane Juncker se geselskap vat om jou te orreed dat wonderwerke kan gebeur wanneer jou bewussyn en onderbewuste met mekaar gesels.
Juncker – of eerder Stef – span jare reeds die kuns van hipnose in om mense wêreldwyd te vermaak, maar ook om mense te help om hul vrese en obsessies deur hipnoterapie die hoof te bied.
Hy het op die naat van sy rug op die agtersitplek van ’n kar gelê – op pad om te gaan paraglide – toe hy telefonies met my oor sy passie vir hipnose gepraat het.
Met sy verhoogoptredes – soos dié wat hy tydens Paasnaweek by die MTN Nelson Mandelabaai Splashfees by Hobiestrand in Port Elizabeth gaan doen – laat hy gehore skater wanneer hy vrywilligers onder hipnose plaas en hulle aansê om allerhande lawwe goed aan te vang.
Hy beskryf sy vertonings as ’n uur van lekker ontspanning, ontvlugting en vermaak – ook vir homself.
“Op die verhoog is ek self ook in ’n staat van semi-hipnose. My vertonings is nooit dieselfde nie, aangesien mense verskillend in gegewe situasies reageer.”
Dié gebore Belg – wat sedert eenjarige ouderdom in Suid-Afrika woon – kan ses tale vlot praat en het al meer as 80 lande in sy 37 jaar besoek.
Volgens hom is hipnose “fassinerend, interessant, behulpsaam en vermaaklik”. Hy sê enigeen met ’n IK van meer as 40 kan gehipnotiseer word, mits hulle die proses toelaat.
“Ek het self met slapeloosheid gesukkel, maar deur selfhipnose kan ek nou binne 30 sekondes in droomland wees.” Dit, sê Stef, is maar een van talle voorbeelde van menslike gedrag wat deur hipnose aangespreek kan word.
Volgens hom spruit probleemgedrag – soos gewigsprobleme, verslawing en vrese – gewoonlik uit ervarings uit mense se kinderjare of uit trauma wat hulle toe of later beleef het.
“Wanneer ek ’n hipnoterapiesessie aanpak, gesels ek eers rustig met die persoon om agter die kap van die byl te kom.”
Hy sê in die meeste gevalle hou die probleem, soos byvoorbeeld ’n vrees vir hoogtes, nie met ’n voor die handliggende ervaring verband nie, maar eerder met ’n soort verskuilde agenda waarvolgens die onderbewuste die individu help om te cope.
Dis vir hom opmerklik hoeveel van die gevalle waarmee hy te doen kry, wortels in disfunksionele gesinsverhoudings het.
Sy passie vir die vermaaklikheidsbedryf het in die Baai begin toe hy homself op universiteit geleer het om ’n nar te wees en om kulkuns en ontsnappingstoertjies te doen.
Daarna het hy homself in die wonderwêreld van hipnose begewe en toe hy tot verhaal kom, het hy jaarliks meer as 400 verhoogproduksies by feeste en sakefunksies regoor die wêreld aangebied. Dis toe dat hy besluit het om meer balans in sy lewe te vind.
Hy het een van sy ander passies, valskerm-sweef, ingespan om dit te bewerkstellig en doen nou abba-vlugte met mense wat graag dié unieke ervaring wil meemaak.
Verder doen hy steeds nagenoeg 150 verhoogoptredes per jaar.
Vir meer inligting, besoek www.splashfestival.com of bel die feeskantoor by 041 393 4844.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
MTN Nelson Mandelabaai Splashfees