Yanks is vol van hulself en ’n regte spul drama queens – kyk maar vir Oprah, Jerry Springer en JR van ouds.

Behalwe vir hul karre en ego’s, is selfs die melkskommels en hamburgers dáár die grootste ter wêreld.

Dan het hulle mos die irriterende persepsie dat Amerika die middelpunt van die heelal is – soos hul voorliefde om plaaslike sportreekse world championships te doop, bewys.

Maar hokaai met die veralgemenings, sê ’n goeie vriend nou die dag vir my nadat hy so pas van ’n jaarlange sabbatical in dié geweste teruggekeer het.

Die diens is flink, openbare geriewe netjies, stelsels en strukture werk seepglad en almal is super-patrioties, beduie hy my met groot oë. Want sy oë het oopgegaan.

In ’n land wat hoofsaaklik uit immigrante bestaan en omtrent net so oud soos ons s’n is, is dit nogal vreemd, maar volgens hom wapper daar ’n landsvlag by bykans elke voordeur.

By geleenthede waar daar drie of meer jolige Amerikaners bymekaar is, word die volkslied uit volle bors saamgesing, guaranteed, sê hy.

Of dit nou ’n klub-yshokkiewedstryd in Washington of ’n rodeo in Las Vegas is, hulle staan soos een man op aandag en sing uit volle bors – komleet met die regterarm (met of sonder ’n cowboyhoed in die hand) oor die borskas gevou.

Groot jaarlikse feesdae word gehou om oorlogsveterane te vereer. Van die Eerste Wêreldoorlog tot Viëtnam word op spesiale pleine gedenk, waartydens die American Pledge of Allegiance hardop saamgesê en, natuurlik, die volkslied gesing word.

Daar word daagliks eerbiedige seremonies by die Arlington nasionale begraafplaas, met sy duisende wit grafstene, neffens die Pentagon gehou. Gemiddeld sewe-en-twintig soldate word elke dag hier ter ruste gelê.

Ons het baie oor die Yanks te sê, beduie my vriend weer, maar wie van ons generasie ken ons eie land se volkslied? Kom nou, elke woordjie?

Daar word saamgeneurie wanneer die Star-Spangled Banner gesing word, maar ons struikel oor die woorde van ons eie.

En wie van ons weet wanneer is Republiekdag, Dingaansdag, Vryheidsdag, Versoeningsdag? Maar ons álmal weet Independence Day is op 4 Julie.

Moet egter nie ’n fout maak nie, weerspreek my vriend homself, die Yanks doen niks op klein skaal nie. Soos die pas afgelope verkiesing wat ons land Suid-Afrika se veldtogte soos ’n kerkbasaar op ’n Saterdagoggend laat lyk.

Maar laat ek julle vertel, hulle suffer op grand skaal ook, beduie hy verder. So erg soos die ekonomie ons knou, voel hulle dit tien maal erger.

Hy vertel met heimwee van sy 2004-model Dodge Caravan wat hy voor sy terugkeer vir ’n skamele 2 800 dollar – sowat 28 000 bokke – moes verkwansel (in Suid-Afrika is dieselfde model nou glo R120 000 werd).

Party handelaars het nog in November verlede jaar, en hy lieg nie sweer hy, sulke absurde offers soos “Buy a Dodge, get one for free” gehad.

Dis wild, beduie hy vir oulaas.

 Ja, die Wilde Weste, dink ek.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited