Daar is mense wat netwerk vir werk en dan is daar my twee geskeide vriendinne wat die ’net vir hulle laat werk – en dis allesbehalwe vir werk.
Maar somtyds heilig die doel die middele, want hulle het online dating ontdek.
Waar anders ontmoet vrouens soos hulle, wat kinders en beroepe het, dan goeie mans, vra hulle. Hulle hang nie in kroeë rond nie en soek ook nie sulke mans nie, lig hulle my in.
Boonop kan mens hul profiele sien alvorens jy van nader kennis maak. Dit bevat inligting soos ouderdom, sterreteken, waarvan hy hou, huwelikstatus, kinders, kerkbywoning, of hy ’n drankie en dampie geniet en selfs HIV-status.
Dis veilig, want hy weet nie wat jou naam en kontakbesonderhede is tot jy besluit om dit vir hom te gee nie. En as hy nie kan spel nie, delete jy hom eenvoudig van jou favourites, want dan weet jy hy is nie opgevoed nie.
’n Favourite is natuurlik iemand wie se profiel jy interessant vind en as sodanig merk. ’n E-pos word dan outomaties aan hom of haar gestuur en as die gevoel wederkerig is, is dit tyd om te begin chat.
So betree ek toe as vriend en vertroueling die wêreld van cyber dating en ontdek genoeg sepie-skryfstof wat die The Bold and Beautiful se skrywers sal laat bloos.
Aanvanklik was hulle soos kinders in ’n lekkergoedwinkel. Vat (kliek) hier en los (delete) daar en so het dit vir minstens drie dae gegaan totdat dit tyd geword het om van die hubare manne te ontmoet – dis nou diegene wat die spel- en fototoets geslaag het.
En hier het ek hernieude respek vir ’n werkende enkelma se vermoë om te organiseer, gekry. Party dae is tot twee dates ingewerk – tussen werk en kinders aankarwei deur.
My sosiale lewe was later maar bra saai in vergelyking met dié twee s’n en ek het myself telkemale uitgevang dat ek nie kon wag vir die lykskouing, ontlonting of opwinding na elke date nie.
Daar was argitekte, eks-polisiemanne, grootkoppe by maatskappye, sielkundiges, you name it.
Vriendin nommer een was gelukkig. Sy het binne twee weke sommer twee keer verlief geraak.
Een het in ’n kortstondige verhouding ontaard – ’n tydperk wat sy as haar beste ooit beskryf, want dit het haar hoop gegee en weer geleer om te lag.
Nommer twee het net vriende gemaak. Daar was net nie “chemistry” nie.
Sy verseker my egter vinnig as sy ooit ’n prokureur, sielkundige, argitek of finansiële boffin nodig het, sy net in haar swartboekie hoef te kyk.
Na sewe maande en tientalle emosionele rollercoasters, is hulle wraggies steeds aan die soek. Die dates is nou minder en die favourites-lysie korter.
Maar ten minste weet hulle nou waar om al daardie visse in die see (of waterdraers of leeus of tweelinge) te gaan soek.
En hiermee saam is daar die wete dat daar ander mense is wat nét so alleen is, wat ook hunker na ’n tweede kans en nie skaam is om dit te erken nie – en dis net ’n kwessie van tyd voor hulle hom raakkliek.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited