Dis jy. Nét jy. En jou ysterperd. En die pad. Maar julle is een.

Julle voel onsigbaar. Naamloos. Soos Die Skim. Maar tog is julle onmisbaar. Motoriste staar leepoog by hul sedanvensters uit en proes in jul rookwolk.

Dis in elk geval wat ’n vriend my probeer wysmaak. En dis juis aan hom wie ek nou die oggend dink toe ek op pad werk toe nuus oor die draadloos luister.

Die Vryheidsfront Plus, onder leiding van dr. Pieter Mulder, het wraggies daarin geslaag om verminderde tolhektariewe vir motorfietse te bemiddel (seker ’n paar geharde bikers in dié party!).

Behalwe vir ’n midlife crisis, is daar dus nou nog ’n rede om ’n motorfiets aan te skaf.

Dis egter net mooi waar die spreekwoordelike papaja die fan gaan tref, want daar is mos diegene wat pro en dié wat altyd gekant teen dié “doodskiste op wiele” sal wees.

Ek self is nie ’n ekspert op dié terrein nie, maar dit wil vir my voorkom of die for-groep hoofsaaklik uit mans en tienerseuns bestaan en dat die against-kant oorwegend estrogeen-gedrewe is – eggenotes en ma’s.

En dis laasgenoemde groepie wat oortuig sal moet word voor een van dié speelgoed in jou motorhuis sal kan pryk.

Die argument dat tolgeld nou goedkoper as motors s’n is, gaan nie die knoop deurhaak nie. En ook nie dat dit meer ekonomies is om met ’n scrambler, Harley of Vespa rond te rits nie.

Die koste van die onderhoud, verstaan ek, hang van die model af, maar dié informasie moet liefs tot ná die eerste diens ’n geheimpie tussen die for-ouens bly.

Tyd is geld en ysterperde spaar mos hope hiervan wanneer jy tussen die spitstydkarre deurvleg. Hieruit volg natuurlik, soos ’n wetenskap-onnie oor ’n chemie-formule sou sê, dat frustrasie net vir ouens met karre beskore is – en siedaar, nog ’n regmerk!

Ek onthou my vriend het eenmaal gesê dis ’n ervaring om Transkei se grond- én teerpaaie op ’n motorfiets aan te durf. Die feit dat slaggate, bokke en koeie dodge vir hom ’n adrenalien-rush gegee het, sal nooit (vir sy wederhelf) oorvertel word nie.

As jy ’n alleenloper en nog boonop skaam is, sal jy ’n aster op ’n romantiese rit kon vat sonder om ’n enkele woord te sê. Maar dan kan jy anyway een koop as jy wil, so dit tel nie.

Swart leerpakkies (hulle kom mos in unisex) kan jou en jou beter helfte so koel soos die ouens in Top Gun, Mission Impossible, Wild Hogs en Straatvalk laat lyk, maar ek twyfel of dit motivering genoeg is – veral as jy beplan om alleen die pad te vat.

Met ’n motorfiets, veral dié soort wat nóg padfiets nóg scrambler is, sou mens plekke kon sien waarvan die motorfietsloses maar net kan droom – lees maar van Ewan McGregor se ervarings in The Long Way Round.

Maar die sinvolste argument, ook afkomstig van my vriend, en hy reken enige volbloedvrou sal dit verstaan, is: Four wheels move the body, but two wheels move the soul.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited