Bloedrooi rose, sjokolade, vonkelwyn, romantiese kersligetes en rugby!
Valentynsdag laat gewoonlik die doedies se oë blink, maar met die Super 14 wat ook dié naweek afskop, weet ek van ’n hele paar stoere boere wat reeds die slapies tot dié romantiese dag aftel.
Ek weet nie wanneer die Valentynsdag-gogga Suid-Afrikaners vir die eerste keer regtig gebyt het nie, maar sedertdien is blomme baie duurder in Februarie en feitlik elke winkel – selfs al verkoop hulle net skroewedraaiers – is in rooi getooi.
Die rugbygogga, dink ek, het eerste gebyt. Groot mans het al trane in hul oë gekry – of hul span nou wen of verloor – lank voor hulle Interflora se nommer in die telefoonboek begin opsoek het.
In daai tye is die draadloos nog ingespan om die rugby te volg wanneer jou span wegwedstryde speel. Dan kon die manne lekker aan hul brandy en Coke teug en mekaar in die oë kyk terwyl hulle luister of die drie – wat toe nog drie punte getel het – toegeken gaan word.
En net soos Valentynsdag sonder rose ’n flop kan wees, werk rugby sonder braaivleis ook nie regtig nie.
Daar is twee soorte rugbybraaie: dié vóór die wedstryd – waar die manne (en sommige vroue) “opwarm” en bespiegel oor hul span se kanse – en dié ná die tyd, waar almal van die ref tot die dansende meisies ontleed word.
Op rugby-Saterdae verander die hele ritme van ’n groot stad.
Kyk maar, as die eerste wedstryd om twaalf begin, kan ’n kat teen halfelf nie sy kleintjies in die koswinkels kry nie. Die mense staan tou en al die brood, ys en boerewors is al vroeg-vroeg uitverkoop.
Teen halftwaalf is die rakke en die winkels dolleeg en tjoepstil. Op pad huis toe sien jy karre plek-plek sypaadjies volstaan en teen hierdie tyd verkoop die mense by die robotte die (nagemaakte) Sharks-pette al teen afslagpryse.
Kinders word ook in die Suid-Afrikaanse kultuur gegroom om rugbygeesdriftiges te wees, maar party sal lewenslank die romanse van Valentynsdag bo die bekoring van dié spel verkies.
So moes ’n verlangse vriendin, wie se pa seisoenkaartjies gehad het, amper elke Saterdag teen haar sin saampiekel Vrystaatstadion toe – daar waar die son jou eers kaiings braai voor die skraal wind jou later laat bibber wanneer die laaste son agter die hoofpaviljoen wegsak.
Om haar besig te hou, maar bowenal sodat hy in vrede vir sy span kon skree, het hy ’n plan – wat die roomyskarretjie aan die oorkant van die veld ingesluit het – bedink.
Omdat sy sitplekke regoor die middellyn was, omtrent halfpad teen die paviljoen op, omdat daar ’n fietsrybaan om die veld was en omdat haar beentjies nog baie kort was, kon twee keer se roomyskoop amper die hele tagtig minute laat wegsmelt.
Ek vermoed vanjaar se Valentynsdag het die potensiaal om ’n hoogtepunt op die manne en ’n laagtepunt op (sommige) vroue se kalenders te wees.
My raad aan die manne is om vooruit te beplan en sommer al die omkoopgeskenke vroegtydig aan te skaf. Aan die Eva’s: If you can’t beat them, join them!
Gelukkige Valentynsdag en mag die beste “span” wen.
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited