Om met die spreekwoordelike witbrood onder die arm te kan kla, moet mens dit darem seker eers kan koop.

En hoewel geld in die bank dié stapelkos in teorie ’n moontlikheid moet kan maak, het ek onlangs uitgevind dat dit nie noodwendig die geval is nie.

Soos julle weet, leef ons in ’n “loos”-tydperk: papierloos om bome en die osoonlaag te red; chemikalieloos om gesonde organiese groente vir die yuppies te verbou; en kontantloos, omdat dit peperduur is om geld te trek en seker ook omdat jou skade dan beperk is as ’n sakkeroller jou beursie sou steel.

Een van my vriende het oor Desember in die Moederstad vakansie gaan hou. Omdat hy glo die vakansie begin wanneer jy in die kar klim en eers eindig wanneer jy weer by die huis stop, kies hy gewoonlik die scenic route.

Só is hy toe op ’n snikhete dag (sonder kontant) met sy Duitse motor en bankkaarte deur die Klein Karoo via die gewilde Roete 62 – alombekend vir sy verruklike natuurskoon, een van die langste wynroetes ter wêreld en Ronnie’s Sex Shop.

Op Ladismith was sy petrol – én die van sy kar – min en hy trek toe by die vulstasie met sy one-stop shop in.

Buite gooi hy R400 se petrol met sy garagekaart in en binne sit hy ’n yskoue koeldrank, toebroodjie en droëwors op die toonbank neer. Ná die dametjie hom afgeraai het om die “vetterige” droëwors te koop, lui sy die broodjie en die koeldrank op.

Maar toe my vriend sy kredietkaart te voorskyn bring, kondig sy doodluiters aan dat hulle nie kaartbetalings vir aankope van minder as R50 aanvaar nie – die R400 wat hy pas vir petrol opgedok het, lank reeds vergete.

Hot and bothered is hy toe sonder sy “aankope” daar weg met die troos dat Oudtshoorn darem nie te ver is nie.

Daar aangekom, is hy reguit na die naaste winkel. Met die vorige petalje nog sterk in sy geheue, vra hy toe eers of hy die droëwors kon sample.

Of sy standaarde teen dié tyd miskien effens afgeneem het, weet ek nie, maar hy vra toe die dametjie om sommer so R50 s’n af te weeg terwyl hy ’n koeldrank uit die yskas gaan haal.

Toe dit dié keer by die betaalslag kom, sou selfs R1 000 se aankope nie genoeg wees nie, want hier aanvaar hulle sommer uit die staanspoor nie kaartbetalings nie! Die penny wise and pound foolish-redenasie: hulle moet kommissie afstaan.

Nou wonder ek of dit beter is om ’n paar persent van die wins af te staan of sommer die hele honderd persent van wat die klant sou spandeer?

Elk geval, hiervandaan was dit deurdruk Port Elizabeth toe, want op Joubertina was die winkels bloot net toe – skemertyd waarskynlik die curfew . . .

Wat my benoud maak, is dat almal wat op toerisme ingestel is, kwansuis uit volgende jaar se Wêrelbeker-sokkertoernooi munt wil slaan.

Maar hoe gemaak as toeriste nie hul Master- en Visakaarte kan swipe om van hul euros, ponde, dollars, jens en, ja selfs rande, ontslae te raak nie?

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited