Dogtertjies (en sommige seuntjies) se gunsteling-plastiekpoppie, Barbie, het onlangs haar vyftigste verjaardag by New York se modeweek gevier en net soos dit ’n goeie Cabernet betaam, raak dié uurglaslyfdolla ook net beter met die verloop van tyd.

Op die loopplank het die mooie Heidi Klum, saam met nege-en-veertig ander modelle, haar lyf met groot sukses Barbie gehou om die halfeeu van een van die wêreld se “ikone” te gedenk.

Klum – wêrelde verwyder van Johanna Spyri se skattige onopgesmukte Heidi wat in die Alpe rondgekerjakker het – vier ook vandag manlief en sanger Seal (Henry Olusegun Kwassi Olumide Adelo Samuel) se verjaardag.

En so van die sterre gepraat, maak dit dan volgens die astrologie van Seal ’n Vis. Diegene wat die sterre volg – en dan praat ek nou nie van Hollywood of Bollywood s’n nie – sê Visse is baie sensitief, met ’n uitstekende waarnemingsvermoë, en hulle bekom skynbaar hul energie deur met hul gevoelens in aanraking te kom.

Die vyftigjarige Barbie – wat nie met Advokaat Barbie van skandaalfaam verwar moet word nie – se sterreteken is die Waterdraer. Hierdie groepie, sê die kenners, straal ’n helder, intellektuele lig uit, hou baie van gesels en kan glo oorleef deur net asem te haal – geen wonder nie dat Barbie se middeltjie dunner as my pinkie is.

Terwyl ons dan nou soos in Frank Sinatra se “Fly me to the moon” tussen die sterre speel, is dit ook heel van pas dat Nicolaus Kopernikus, die Poolse sterrekundige, hoeka op hierdie vyftigste dag van die jaar in 1473 gebore is.

Hy was die slim man wat uitgevind het dat die son die middelpunt van die sterrestelsel is en dat die aarde daarom draai. Wat dit selfs meer merkwaardig maak, is dat sy sterbeheptheid volgens oorlewering (en Wikipedia) net ’n stokperdjie was.

Ek dink nie ledigheid het Nicolaus gereeld oorrompel nie. Hulle sê hy was ’n wiskundige, astroloog, dokter, vertaler, kunstenaar, regsgeleerde, goewerneur, militêre leier, diplomaat en ekonoom – sjoe!

Mense wat lyk my tog ’n paar los minute gehad het, is die rakkers wat die Joost-fliek vervaardig het. Mens moet wel seker diegene wat die rolverdeling gedoen het, komplimenteer op uitstekende casting.

My ma het altyd gewaarsku teen tatoeëermerke, aangesien mens eendag, wanneer jy bietjie ouer is – dalk so oud soos Joost nou is – daaroor berou sou hê en dan sou dit te laat vir trane wees.

Joost, ’n ster in eie reg, is seker verlig dat sy ster-vroutjie – wat tussen opnames en optredes deur boonop tyd maak om vir hom klere te koop – nooit swart Polo-sokkies in haar mandjie gegooi het nie.

En Polo is seker net so bly oor die derduisende rande se gratis publisiteit as wat Joost is oor die tatoeëerbelegginkie wat hy destyds gemaak het.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited