’n Man se amp kan deure oopmaak en sy aansien baie duidelik definieer.

Jy staan mos effens meer regop as jou vaal skoolmaat van jarre toet by die matriekreünie homself as “Dokter Van der Merwe” voorstel.

En so kloek die verskillende beroepsrigtings maar saam as dit by kuier en partytjies kom. Jy moet egter wéét waarvan jy praat; om ’n kwalifikasie of wat by te jok, sal nie in die langtermyn deug nie – vra maar vir Carl Niehaus.

Net so kan ’n klein bietjie onskuldige onkunde jou ook lelik laat struikel as jy te hard probeer om in te pas.

Só ruk ’n oom van my sy naam nou die dag tussen ’n spul geleerdes by ’n grênd dinee. Uit respek vir sy privaatheid, noem ons hom sommer Oom Floors.

Nou Oom Floors is ’n gesiene boer in sy kontrei: hoofouderling, op die bestuur van die boerevereniging, ’n kranige sportadministrateur en ’n galante heer as dit by die dames kom.

Maar om Ingels te praat, is nou nie hoog op sy prioriteitslys nie. Want sien, die enigste Engels wat hy en (meeste van) sy bure ken, is “Coca-Cola”.

Vir familiesake bevind hy hom toe in ’n wildvreemde omgewing in die stad en moes hy noodgedwonge, half ongenooid, saam na ’n spogdinee.

Vir Oom Floors is vreemdelinge net mense wie se familie hy nog nie uitgelê het nie. Hy is altyd die een wat homself eerste met ’n stewige boerehanddruk voorstel en spontaan sal vra: “So van wafferse De Wette is jy nou?”

Daarom het hy geen voorafgaande vrese vir dié geleentheid gehad nie.

Met sy blink skoene en netjiese das is hy gereed om nuwe mense te ontmoet en goeie vriendskappe te smee – en dalk ’n transaksie of wat te beklink ook (mens weet mos nooit wie jy in die toekoms gaan nodig kry nie).

Maar verander Oom Floors se selfversekerde welige snor-glimlag nou vir jou in ’n paniekbevange stywe lip toe hy agterkom die hele geselskap is volksvreemde Engelse!

Hy verskoon hom vriendelik en haas na die powder room onder die trap om sy uitasemgeit bietjie te beteuel.

Nadat hy sy gesig afgespoel het en die sweet in sy nek met sy sakdoek afgevee het, kam hy versigtig sy yl Brylcreem-haartjies kant toe en maak keel skoon terwyl hy vir homself in die spieël groet:

“Good evening. How do you do? I are, of nee man, I am mos . . .”

Ná hy ’n paar sinnetjies voorberei het, is hy reg en paraat vir die Slag van Brittania.

Hy stap regop en gaan sit met ’n breë glimlag op die stoel wat ’n fyn mannetjie met ’n vadoek om sy arm vir hom uithou. Net mooi langs ’n pragtige jong dame.

Dít pas so in Oom Floors se kraal en hy drup behoorlik van die sjarme.

Na ’n seepgladde bekendstelling vra hy vir die meisie – nog so in haar twintigs – wat sy vir ’n lewe doen. “I am studying pharmacy,” antwoord sy vriendelik.

Dankie tog, dink Oom Floors, nou sal ons kan saampraat. “What a coincidence. I am also a farmercist for fourty years already.”

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited