In die óú dae het die smouse met hul waens by al die plase aangedoen en allerlei goed geruil vir plaasprodukte et al.

Geld was nie ter sprake nie – omdat niemand gehad het nie – en daarom is enigiets van koeivelle tot hoendereiers en varkvet gebruik om suiker, lap, sout en horlosies mee te “koop”.

Hierna het koöperasies mode geraak, waar plaasboere enigiets van speensalf tot Minora-lemmetjies kon koop. Later het teekamers hier ook mode geword en was dit sommer – benewens nagmaal – die social hotspot van die gemeenskap.

Gaandeweg het meer winkels hul deure vir sake oopgegooi.

Só het ’n vriendin van my ouma elke week met die handsentrale ’n lyn na Alf Abrahams se hoekwinkel toe gekap om haar week se bestelling te plaas. Alf het dan al die goedjies in bruinpapier toegedraai en afgelewer.

In daai tyd was dit ook nie nodig om rond te shop vir die beste pryse nie, want Abrahams, Johnny Akiki, Peter Kasimatis en al die ander winkeliers het hul ware teen dieselfde pryse verkoop.

Daar was ook nie werklik ’n keuse nie. ’n Blikkie ertjies was bloot ’n blikkie ertjies – nie soos vandag wanneer vyftien verskillende brands jou behoorlik smeek om hulle van die rak af te haal nie.

Die skrywer en futuris Alvin Toffler se boek Future Shock, wat in 1970 verskyn het, het mense laat besef watter Babelse verwarring ’n oordosis van keuses kan veroorsaak.

Hy omskryf die term “future shock” as te veel inligting in ’n te kort tydjie. Selfs nog voor mens vandag by ’n supermark instap, is jy reeds gebombardeer met handelsflitse oor verskillende produkte soos wat elke leweransier vir sy markaandeel veg.

Dié “oorlog” word na ’n nuwe vlak gedryf wanneer mens, effens oorweldig, tussen die rakke met jou trollie deurstap. ’n Eenvoudige taak – soos om ses eiers te koop – verander in ’n landmynveld.

Want waar mens in die verlede bloot vir ses eiers sou vra, is daar nou grys-, groen-, blou- en geel houers. Party eiers is groot, ander regtig groot en ander klein.

Mens kan nóú al selfs kies wat die hoenders moes eet vóór hulle die eiertjies gelê het.

En wanneer dit by die betaalslag kom, moet mens weer begin kopkrap. Eers moet jy kyk hoeveel items jy het, want as dit minder as tien is (afhangend van waar jy koop), kan jy dalk by die Express-toonbank regkom.

As die kassiere jou klaar gevra het of jy sakkies wil hê – en indien wel, hoeveel en watter grootte – moet jy besluit hoe jy gaan betaal.

Dis nou met jou Master-, Visa- of American Express-kredietkaart, debietkaart, tjekkaart, die winkel se eie kaart of met ’n kaart van ’n ander winkel wat met dié een geaffilieer is. Of natuurlik kontant.

Dan kan jy ook nog by party winkels ’n My School-kaart wys, sodat jou kind of kleinkind se skool munt uit jou inkopies kan slaan.

Wees dus maar geduldig met mense wat voor die rakke talm asof hulle in ’n trance is, want hulle is waarskynlik bedwelm deur ’n oordosis keuses soos in Toffler se boek.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited