Wanneer dit by leen kom, moet mens maar versigtig wees wat jy vir wie leen en ook by wie jy wat leen.
Sommige dinge word as ’n reël nie uitgeleen nie – dis nou jou wederhelfte, jou kar en jou elektriese tandeborsel. Skoene kan ook ongerief veroorsaak wanneer dit groter terugkom as wat dit gegaan het.
Op universiteit het my vriend gereeld sy pa se kar geleen. Dit was wel met dié se seën, maar onder streng instruksie dat hy voor middernag tuis moes wees.
Soos die noodlot dit wou hê, het Ertjies moeite gehad met dié voorwaarde. Sy pa was later meer as effens geïrriteerd en het een Saterdagaand besluit om hom in te wag.
Toe Ertjies skuins voor ligdag by die huis instap, was sy pa reeds ver verby woede en het hy geen tyd verspeel om op Ertjies te begin skree nie.
Met bonatuurlike selfbeheersing vir iemand wat onder die prop was, het Ertjies nie teruggepraat nie. Hy het net rustig deur sy swart krullekuif so onderdeur na sy pa geloer.
Toe sy pa geen reaksie kry nie, het hy sy voet neergesit en gesê dit was die allerlaaste keer dat hy ooit die kar sou gebruik.
Ertjies was min gespin toe hy vir sy pa sê hy het die kar in elk geval so vlenters gestamp, dat hy dit maar kon hou en daarmee doen nét wat hy wou!
Intervarsity was ’n perd van ’n ander kleur en mens wonder soms hoe enige van dié massas dit ooit kon regkry om later sukses in die werkplek te behaal.
Een ou het byvoorbeeld – vir geselskap – ’n springhaas op ’n leiband (beslis sonder die DBV se medewete) saamgevat. Dié het soveel aandag getrek dat al wat leef en beef die verskrikte dier wou “leen”.
By dié geleentheid het almal maar op hul eie manier probeer warm bly – party met sjerrie of brandewyn en ander deur vurige omhelsings.
Só het een van my vriende (nou ’n suksesvolle prokureur) en sy meisie, twee bruin slaapsakke – daai outydse soort met die geruite binnekante – by haar ma geleen vir die naweek, met die instruksie: “Hul name is kom terug”.
Die Saterdagaand was ’n jolige affêre en dinge soos komberse (of dan nou slaapsakke) kon tog so maklik voete kry.
Iewers in die donker nag het my vriend se meisie haar ma se slaapsak om die lyf van een van die Tukkies gesien – nogal in die hande van die vyand! Sy het haar kêrel mooi gevra of hy asseblief dit van die groot ou sal gaan terugvra.
Omdat hy so verlief was en omdat hy gestudeer het om prokureur te word, het hy nie geskroom om in sy aangeklamde hoedanigheid, manhaftig met die onderhandelinge te begin nie.
Meer verlief as tevore na dié sukses, het die tweetjies lekker snoesig onder haar ma se slaapsakke agter in sy pa se bakkie geslaap.
Dit was eers die volgende oggend toe die son al hoog sit en die ruite aangewasem is, dat sy gesien het die slaapsak wat hulle van die groot ou se koue lyf afgepraat het, al die tyd groen is en nie bruin nie . . .
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited