Kurt Darren se 15de en nuutste CD, Uit die diepte van my hart, dans behoorlik van die rakke af en ná slegs drie weke, het 52 000 eksemplare reeds baas gekry.

So sê Darren, wat Saterdag 13 Desember by die Nelson Mandelabaai-sewes optree. Dié toernooi, waarvan Die Burger die mediaborg is, vind van 12 tot 14 Desember by die Hoërskool Pearson in Port Elizabeth plaas.

Suid-Afrika se sokkietreffer-koning het onlangs Huisgenoot se Tempo-toekennings vir beste dansalbum en gunsteling manlike kunstenaar ontvang en die blitsverkope van sy nuutste kragtoer onderskryf dié prestasies.

Darren sê hy skryf sy sukses daaraan toe dat hy altwee sy voete stewig op Moeder Aarde hou – behalwe natuurlik wanneer hy op die verhoog met sy gewilde danspassies beïndruk.

“My musiek het geen politiese inslag of opsetlike sosiale kommentaar nie. Ek skryf en sing musiek wat mense laat goed voel.”

Darren, wat bekend is vir sy vermoë om gehore by sy bykans 250 konserte per jaar te betrek, sal vanjaar vir die tweede keer by die Nelson Mandelabaai-sewes optree. Hy sê hy was baie opgewonde toe die organiseerders hom vir ’n tweede sarsie nader getrek het.

“Ek het verlede jaar se konsert vreeslik geniet. PE se gehore is ongelooflik. Dis ook lekker om deel van die hele sewes-atmosfeer te wees.”

Hy sê hy skryf Baaienaars se entoesiastiese ondersteuning toe aan die feit dat mense hier dalk nie so dikwels die geleentheid kry om nasionale kunstenaars in lewende lywe te sien nie.

Hoewel hy ewe gemaklik in Afrikaans en Engels sing en skryf, sê hy Afrikaans se veelsydigheid gee hom die vryheid om sy emosies eerlik met sy gehoor te kommunikeer. Hy sal ou gunstelinge en van sy nuwe treffers soos “Af en Af” en “Kaptein” opvoer.

Stefan Ludik en DJ Ossewa sal Saterdagaand die verhoog met Darren deel, terwyl Shine4, Wasserfall en die a capella-groep Flip-a-Coin Vrydagaand voor Eden sal optree.

Dagkaartjies – wat die konserte, sewesaksie en 15-man feeswedstryde insluit – kos R75 vir volwassenes en R50 vir studente en is by die hek beskikbaar. Naweekpasse kos R150 by Computicket.

Vir meer inligting, besoek www.nmbs.co.za of bel Laurence Finn by 084 507 3175 of Jacques Steyn by 083 458 4390.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

Nelson Mandelabaai-sewes