Nóú is die tyd om jou spreekwoordelike eendjies vir 2009 in ’n ry te kry en, as mens na al die doemprofete moet luister, jou lendene te omgord vir die maer jare wat voorlê.

Opwinding wink beslis in die nuwe jaar met ’n (demokratiese) verkiesing, die konfederasiebeker en die tweede matriekklas wat nie van beter as uitkomsgebaseerde onderrig weet nie.

In die ou dae het mense, soos my ma-hulle, swierige oujaarspartytjies gehou waar die dames – ja, toe was daar nog – laaang aandrokke aangetrek het en die mans manelpakke.

Dan het hulle by hotelle met eksotiese name gaan dans op die maat van regte orkesmusiek, kompleet met die draadkwas oor die simbale tot almal kort voor twaalf begin aftel het.

Ek kan amper die stysel van die gestyfde boordjies ruik en die rook sien trek uit die fotograaf se flash terwyl dames skaam-skaam by klein tafeltjies met regte lampies sit en gesels (want hulle het nie in daardie dae geskinder nie).

Daar was ook ’n hiërargie wanneer dit by die dansery gekom het. Ek weet nie presies hoe dit alles gewerk het nie, maar jy kon blykbaar nie sommer net enige meisie vra om te dans nie en ander kere was dit weer aanvaarbaar om in te sny terwyl sy nog met iemand anders wals.

Ek kan net dink dat daar kruisbande moes wees en sigare en handwaaiers en onderrok op onderrok en suspenders en kamme in kouse en Brylcreem.

Maar deesdae word hotelle se danssale – indien dit nie reeds in ’n kroeg of slaapplek omskep is nie – seker maar vir troues en bingo-aande gebruik, want vandag se oujaarsdanse neem ’n heel ander gedaante aan.

In teenstelling met die dames se lang rokke, dra die girls deesdae die kortste denkbare uitrustings – dit kan ’n broek of ’n rok wees, solank dit net verskriklik kort is – met die hoogste, blinkste skoene. Die manne is meesal in (stukkende) jeans en help-my-sterk-lyk-hempies.

Die musiek is meer as net effens anders as in die ou dae. Dit ruk en pluk kompleet aan diegene op die dansvloer en daar is heeltyd iemand wat oor ’n mikrofoon met die ritmiese massa gesels.

Daar is steeds ligte wat flits en rook wat trek uit masjiene om luister aan die geleentheid te gee, maar nou neem mense sommer met hul selfone kiekies en stuur dit die wêreldwye web in.

Die protokol van wie met wie dans, is ook lank reeds iets van die verlede, want dit lyk gewoon of almal met almal dans of sou kon dans as hulle wou.

Maar, al het die meisies nie vandag meer danskaarte nie en al trek die ouens nie meer pakke aan nie, kom almal steeds tot stilstand om die koms van die nuwe jaar in te tel.

So, of jy nou om ’n braaivleisvuur staan, jou lyf in ’n klub rondruk of reeds nege-uur in die bed is, wees verseker dat elke nuwe jaar opwindende uitdagings bring, dat elke donker wolk ’n silwer randjie sal hê en dat ons vandag nog, soos deur die eeue heen, onder die genade van ’n Hoër Krag leef.

Voorspoedige Nuwejaar!

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited