Onthoutegnieke steun mos swaar op assosiasie en wanneer mens studeer, kan jy dié truuks gebruik deur byvoorbeeld rympies te maak waarvan die eerste letter van elke woord met die goed wat jy probeer onthou, ooreenstem.
In die sakewêreld is dit belangrik om mense se name te onthou, want dan voel hulle belangrik.
Die ding is net dat nie almal van ons veertig mense se name sommer net so kan onthou nie en dan begin mens planne maak om ten minste so twee of drie (van die belangrikstes) hok te slaan.
So werk dit: Iemand stel jou voor, “Pieter, dis nou Sarie – Sarie, Pieter”.
Terwyl jy dinge sê soos, “Só lekker om jou te ontmoet; het al só baie van jou gehoor – als goed natuurlik,” is jy agter jou glimlag druk besig met assosiasies.
Sarie . . . Sarie . . . okay, die tydskrif, maar nee, sy lyk nie juis soos ’n leser (of ’n voorbladnooi) nie.
“My Sarie Marais is so ver van my hart . . .”, dalk, maar omdat sy amper ses voet ses is, dink jy dis dalk beter so. Aha! Arrie-warrie-Sarie!
Soms is die moeiliker name makliker om te onthou, want iets soos Johan Barnard klink soos die naam onderaan die tjek in ’n bankadvertensie in die Sarie.
As jy hom met ander Johanne sou assosieer, is die opsies legio en toetentaal teenstrydig met die hele proses, wat juis op onderskeiding staatmaak.
Fonetika kan help (of verwar). ’n Vriendin wat saam met my geswot het, het (amper) die man van haar drome in Botswana ontmoet.
Sy naam was Lance Watermeyer. Om dié te onthou, het sy gedink aan een van haar vriendinne se kêrel, Louw Kannemeyer (nota aan voornemende doopouers: vreemde name soos dié – as mens hulle kan onthou – maak dit baie makliker om mense op Facebook op te spoor).
Liedjies hou van name. Dink maar aan “Come on Eileen”, “Mandi”, “Danny Boy” en “Lisa se Klavier”.
En ek wonder of mens enige naam in ’n liedjie sou kon giet? Selfs iets soos Ralie Koekemoer. Miskien wel.
“Ralie, Ralie ek kan nie kla nie. Met jou aan my sy sing ek heeldag Wielie Walie. My Koekemoer se Ralie wat my hart laat koer, koer, koer, my Ralie Koekemoer . . .”
Modename is ook groot mode. Gaan kyk maar na al die (Lady) Dianas, Karin (Barnards), Wilma (Van der Bijls) en Charlize (Therons). Elke era bring sy eie.
Wanneer ’n nuwe ikoon kop uitsteek, moet binnelandse sake seker bontstaan om nie die Barack van der Merwe, Barack Prinsloo, Barack Botha en Barack Brummers se ID-nommers te verwar nie.
As jy vir jou ouers sê jy het sê nou maar vir Susan ontmoet, wil jou pa dadelik weet wat haar van is. Nou dink jy hard. Aha, Gutter!
Van watter Gutters? “Ek weet nie, pa.” Is hulle van die Winburg-Gutters? “Ek weet nie, pa.”
In die Bybel se tyd was Simon van Sirene omdat hy Simon van Sirene was. Maar met eeue se diaspora, modeneigings, uitheemse spellings en samevoegings, is name net eenvoudig nie meer so eenvoudig nie.
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited