Die Nokia-tune laat weet jou dis al wéér tyd om op te staan en die dag te gryp!
Nou lê jy en wonder – carpe diem of te not – of jy dit moet waag om jou oë oop te maak, want dan is die nag se salige rus amtelik verby. Om sake te vererger, kom die son boonop dié tyd van die jaar amper in die middel van die nag op.
Ek dink soms daar is iewers ’n komplot om ons te brainwash, want het jy al ooit iemand hoor sê gryp die nág?
Omtrent elke tweede chick-fliek begin met iemand wat omrol in die bed en ’n wekker dooddruk, onder kussings begrawe of teen die muur stukkend gooi.
Die fliekmakers het geen moeite om die kyker presies te laat verstaan hoe die akteur voel nie, want ons almal ken daardie hulpelose gevoel van ongeloof dat dit hoegenaamd al opstaantyd kan wees.
In dié flieks vorder die toneel gewoonlik waar die arme man met deurmekaar hare uit die bed strompel en oor alles en nog wat val tot by die wasbak. Hy staar dan ongelowig na die vreemdeling in die spieël voor hy met sy dagroetine begin.
Krukke wat mense gebruik om hulself van die lakens af los te skeur, maak van oggende waarskynlik die krukrykste tyd van die dag. Jy hoor hulle al sê dat hulle nie kan funksioneer voor hul eerste koppie koffie, sigaret, gimnasiumsessie of glas vrugtesap nie.
Dis ook vroegoggend dat roetine die duidelikste sigbaar is. Die rede hiervoor is waarskynlik bloot prakties – as jy nie alles doen wat jy moet in die mees logiese volgorde nie, gaan jy laat (of later) wees.
Hoewel roetine skynbaar sekuriteit vir kleintjies bied, kan dit vir grootmense soos gronderosie wees soos hulle aanmekaar oor dieselfde paadjies skaaf en later diep slote uitkalwe. Eindelik sukkel sommiges om uit dié slote te kom en word enige roetine-afwyking – al is dit vir vakansie-hou – ’n struikelblok.
Oom Faan het later jare geweier om met vakansie te gaan. Volgens hom was “die ontberinge te groot”.
Een van my ma se vriendinne reken dat sy na tien saans in duie stort. Ek weet nie hoe laat sy soggens opstaan nie.
Miskien is sy een van daai mense wat voor almal wakker is en haar selfvoldaan op die skouer klop vir dié orwinning en stilswyend neersien op diegende wat die snooze-knoppie peper.
Die uitdaging is dat, hoe mens ookal daarna kyk, ’n dag net vier-en-twintig ure gee. Of jy nou ná gewone werkure vir ’n vertoning moet repeteer en of jy vyf ure per dag vir ’n fietswedren moet oefen, dagure kan nie in bondels – soos bandwidth vir jou internetverbruik – gekoop word nie.
En terwyl vroeg inkruip waarskynlik die antwoord op makliker opstaan is, is dit soms tog ook nodig om so dan en wan nie net die dag nie, maar ook die nág te gryp.
Want hoewel die oggendvoëltjie skynbaar die sappigste wurm vang, moet mens seer sekerlik ook gehoor gee aan: All work and no play makes Jack a dull boy!
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited