Mens kry dikkes en dunnes; mooies en lelikes; hardes en sagtes; grotes en kleintjies; Afrikaanses en Engelses; effektiewes en nutteloses; goedkopes en dures en gewoonlik begin hulle om en by dié tyd van die jaar hul opwagting maak.

En net soos met vrou-soek, vat dit soms jare voor jy nét die regte dagboek vir jóú opspoor.

Afhangende van waarvoor jy dit wil gebruik en hoeveel jy wil bestee, wissel die vereistes en soos met só baie dinge in die lewe, is dit beslis nie appels met appels vergelyk nie.

Die groot A4-soort – wat een van my verskaffers vir my, ’n “gewaardeerde kliënt”, as omkoop/kersgeskenk gestuur het – is nie te sleg nie en bied een hele bladsy vir elke dag. Maar dis grasgroen met intimiderende goue letterwerk.

Dit behoort te werk as ek dit óóp laat lê, want dan sal niemand sien watter walglike kleur die omslag is nie. Ek sal dit ook nie kan saampiekel vergaderings toe nie, want dit is heeltemal te lomp.

Die oulike enetjie wat my niggie laasjaar vir my gegee het, het kwinkslae by elke dag, maar Maandag, Dinsdag en Woensdag deel ’n bladsy en Donderdag, Vrydag én Saterdag en Sondag is ’n verdagte vierling wat net mooi géén plek vir naweekafsprake los nie.

Dan is daar die piepklein sakboekies wat die slaghuise en apteke soms vir hul kliënte gee – seker ook maar om dankie of asseblief vir iets te sê. Hulle is ideaal vir mense sonder penne of planne.

Verlede week betrap ek myself voor die dagboeke in ’n eksklusiewe boekwinkel. En kom ons draai nou nie doekies om nie, eksklusiwiteit kom teen ’n prys.

Maar dagboeke is vreemde voorwerpe en hoe mense oor hulle voel, soms nog vreemder. Party het ’n intieme, amper obsessiewe verhouding met dié alledaagse voorwerp.

So dring ’n vriendin – wat so arm soos ’n kerkmuis is weens haar onlangse egskeiding – daarop aan om jaarliks ten duurste ’n ingevoerde swart leerdagboek te koop. Haar verweer is dat dit haar minder as ’n rand per dag oor die 365 en ’n kwart dae van die jaar kos.

As die nuwe jaar eers begin en jy klaar verjaarsdae oorgeskryf het, is jy by omdraai verby. Dan is dit jy en jou boek vir die res van die jaar, want die trauma om in die helfte van die jaar met ’n nuwe te begin, kan tot waansin lei.

Ek weet alles neig na die elektroniese toe, en ja ek sit ook reminders op my selfoon en Facebook herinner my aan my vriende se verjaarsdae, maar niks klop pen op papier en die afmerk van dagtake soos jy vorder nie.

Benewens afsprake, is lysies die hoofbestanddeel van my dagboekblaaie. Ek skryf soms, moet ek bieg, dinge neer ná ek dit al gedoen het – net om daai afmerk-satisfaksie te smaak.

Ander mense kan weer totaal los van hul dagboeke of selfs daarsonder funksioneer.

Hoewel ek myne met ywer op datum hou en dit tot op die letter volg, is dit nie moeilik om te sien watter dae die besigste was nie. Soek maar net die dae waarop daar geen inskrywings was nie.

Op dié dae kan jy seker wees het ek gewerk, want tyd vir lysies maak, was daar gewis nie.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited