Beste mnr. Motlanthe,
Baie geluk! Ek hoor u is nou ons nuwe president. Dis ’n groot prestasie om in hierdie land bo uit te kom. Min van ons kry dit reg.
Jammer dat ek sommer so – en in Afrikaans – vir u skryf, maar ek weet nie met wie ek oor dié dinge moet gesels nie.
Sien, die saak staan só: Die einde van die jaar kom nader en ek raak benoud oor die werklikheid van my situasie.
Die base het vandag laat weet ons gaan nie jaareindfunksie hou nie, want daar is nie geld nie. Ek is spyt daaroor, want dis ’n beloning vir die ekstra ure wat ons insit.
Ons kry ook nie bonusse nie. Ek weet dis óók ’n voorreg, maar ek het nogal uitgesien om elektriese heinings om my huis te laat sit met daardie geld.
Die bestuur sal blykbaar aan die einde van die maand laat weet wie nie volgende jaar hoef terug te kom werk toe nie.
Ag meneer, ons sien só uit na die Kersvakansie by my oupa-hulle op die plaas, maar die petrol is duur en nuwe bande ook.
Chris Chameleon kom een van die dae Baai toe. Dis vir my so belangrik om aan dié dinge blootgestel te word, maar R500 vir ’n gesins-outing is bietjie baie vir ons.
Ek moet die bietjie ekstras wat ek het, gebruik om die elektriese foute by my huis te laat regmaak. “Dis seker maar van die baie kragonderbrekings”, het die elektrisiën verlede week vir my gesê.
Ek hou van ordentlike klere. En ek wil nog leer Frans praat. Die lys van boeke en CD’s wat ek móét koop, raak net langer. En ek sal graag kooklesse wil neem om my vrou volgende jaar op Valentynsdag te verras.
En ek wil maandeliks bydra tot die kinderhuis om die draai. Of sommer net vir ’n naweek vinnig deurry Oudtshoorn toe vir die KKNK. En langer as vyf minute met my vriende in Londen en Australië oor die foon gesels.
Ek wil graag DStv kry vir kykNET (daar is so min Afrikaans op SABC). Ek wil nog gaan kyk of die Victoria-watervalle régtig so indrukwekkend is soos dit in my aardrykskunde-handboek gelyk het.
En miskien nog daardie leerbanke vir ons huis. En dalk aanbou. Ek wil vriende vir ’n braai nooi en vir ’n slag nie ’n bring-en-braai hoef voor te stel nie. En ordentlike wyn koop.
My kinders wil ekstra wiskunde-lesse neem en ons wil Woolworths se organiese kos eet.
Meneer Motlanthe, jy dink seker ek verwag te veel. Ek weet ons het baie, maar hierdie is basiese dinge wat ék wíl doen en hê.
Ek werk hard en sit alles in omdat ek ’n lekker lewe wil lei en vir my gesin wil sorg. En hulle soms wil bederf. Dít het ek in die laerskool al besluit, maar nou voel ek selfsugtig as ek hierdie goed eis.
Ek voel al skuldig om aan my St. 6-juffrou se woorde, “Jy mag en moet die beste vir jouself wil hê”, te dink.
Ek weet meneer is seker besig om baie vure dood te slaan, maar ek ook.
Ek word deur die ekonomiese krisis gedwing om die vure wat hoog en warm in my are brand, dood te slaan. Want met ons rieme so bitter fyn gesny, mis ons uit om dinge te beleef en te geniet.
Groete eers,
’n Suid-Afrikaner
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management