’n Onlangse besoek aan ’n ouetehuis het my teruggeneem na die dae toe ek ook daar vir my oumas gaan kuier het.
Wanneer mens aan ’n tehuis vir bejaardes dink, is daar dikwels stories soos die personeel wat kwansuis die “mensies” se geld en klere steel (dan vind hulle dit tog later waar hulle dit weggesteek het!) en die kos wat alewig te min sout het wat die ronde doen. Nie eens te praat van die interne politiek wanneer Oom Japie by Tannie Lettie kuier, terwyl sy Skapie in die siekeboeg versorg word nie.
Maar die prentjie wat in my geheue geëts is, is een van ’n besondere erns waarmee die meeste steeds hul selfopgelegde dagtaak voortsit. Sonder om te moet.
So was daar die tannie wat getrou by die voordeur gesit het om die sekerheidshek se knoppie te druk, gewoonlik nog voordat ons (en ander besoekers) motor behoorlik tot stilstand gekom het.
Met ’n vriendelike glimlag is ons onmiddellik ingelig waar my ouma haar op daardie oomblik bevind. Getrou op haar pos, het sy dag in en dag uit haar ontvangsdame-dae op hierdie manier uitgeleef.
Die statige Mevrou Dominee het verwelkomings en bedankings behartig wanneer die kinderkranskinders kom sing het. Dan het sy saggies gebid en dankie gesê vir die matrone wat so mooi na hulle kyk.
Die gewilde gasvrou en tuisteskepper van ouds se kamer was die bymekaarkomplek vir die daaglikse uitsending van “Sê Wie” op RSG, en daarna is die mooiste koppies en pierings vir die gaste uitgehaal.
Die dierbare Tannie Marie – ’n afgetrede haarkapper – het streng toesig gehou wanneer die aspirant-haarkappers elke maand hare kom knip het. Op haar stoel in die hoek met ’n Huisgenoot in die hand, het sy met ’n stille gesag toegesien dat almal met die vrywilligers se pogings tevrede is.
My ouma Nellie was die “hoofmeisie” van haar gang en sy het trots daarin gevind om as sleuteldraer besoekers by die kantdeur te laat in en uit.
En net voor slaaptyd het sy Tannie Bosch (my ouma het almal op hul vanne genoem), Marais en Van Rooyen se bene ingesmeer. Dié Florence Nightingale sou selfs haar middagsiesta onderbreek om diegene wat nie meer aldag so lekker onthou nie, te herinner om hul pille te sluk.
Op vyf-en-tagtig was sy self nie meer stewig op haar kort beentjies nie, maar sy het nog gereeld die ander tannies se kaste reggepak (ek hoor nou weer my ma se kwaai stem as my ouma vertel hoe sy soms op ’n stoel moes klim om “bolangs” by te kom!).
Wanneer dit saans stil geword het, het sy vir vriendinne wie se oë al te moeg geword het om behoorlik te sien, uit die Bybel en Afrikaanse boeke voorgelees.
My ander ouma, Ouma Rina, het haar kunstenaarsoog op die tuine gehou en raad gegee as die tuiniers, volgens haar, die plantjies op verkeerde plekke geplant het. Sy het haar vreugde vir die buitelewe graag met ander gedeel en elke dag ’n ander tannie opgekommandeer om te gaan stap – “vir vars lug wat ons jonk hou”.
Ouma Rina was ook die “musiektannie” en het tot kort voor haar dood nog haar dienste as klavierbegeleier aangebied. Vakansietye moes ek daar gaan sing en met háár as my promotor, het ek géén bekenstelling nodig gehad nie.
Uit die aard van die geskenke kon ek aflei almal het selfs geweet wat my gunsteling koeldrank en lekkergoed is . . . Die logistieke reëlings rondom haar kleinseun se vertoning, het sy trots in haar netjiese handskrif op plakkate teen die aansteekborde aangebring.
So vat daar dié dag ’n diep warmte in my hart pos op pad huis toe – vir dié “gemeenskappies” wat so stilweg voortgaan en werklike vreugde uit hul “werksaamhede” put.
My wens is dat hierdie tipe werksvreugde eendag vir my en jou ook beskore sal wees.
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management