Dis nie net Paula van der Lecq van Sewende Laan-faam – die Mode, Skoonheid, Literêre én Sosiale Redakteur van die Hillside Times – wat mal is oor titels nie.

Baie mense lééf vir dié voorvoegsels – of dit nou ’n properse titel of ’n posvlakomskrywing is – en dit wil vir my voorkom hoe langer en meer ingewikkeld dit is, hoe hoër die “status”.

Want kyk, dit sê mos darem iets van jou as jy die Interne Operasionele Personeelbestuurder of die Adjunk Konseptualis en Strategiese Beplanner van die Uitvoerende Komitee se Taakspan is.

Dan is daar die hele Mevrou-, Mejuffrou-, Juffrou-issue wat op sy eie ’n tema vir ’n rubriek kan wees. En ander sal – tot hul ewige spyt – nooit weer die posvlak Bachelor of die meegaande titel ruik nie.

Hoe dit ookal sy, mense wil tog net só graag ’n naambalkie dra.

So tydjie terug doen ’n dame mos aansoek om kombuisdiens by ons te doen. Sy het ál die regte titels op haar CV: Chef de Partie, Food and Beverage Manager, Assistant Hoofkok  . . .

Maar voor jy kon sê “driegang-maaltyd” – nie eens te praat van tweehonderd-en-vyftig mense op een slag voer nie – is sy met al haar titels en kwalifikasies die deur uit – waarskynlik meer gemaklik in ’n bestuurshoedanigheid . . .
 
Dit laat my dink aan ’n e-pos wat ek van ’n sogenaamde “Verkoopspesialis” ontvang het, wat homself as die nuutste vonds van ’n sekere selfoonmaatskappy se, en ek haal aan, “dinamiese bestuur” voordoen.

Toe hy my uiteindelik kom sien, weet die arme man nie wat die verskil tussen 082, 083 en 084 is nie. Waarskynlik seker omdat hy ’n spesialis in SY veld is!

So bel ek ’n maatskappy om veranderinge aan ’n advertensie wat ons wil laat publiseer, te bespreek. Ek vra vir die ontvangsdame om my na die relevante persoon deur te sit.

Sy is nie seker wie die regte een is om my navraag te hanteer nie en bied aan om my na die Interne Kommunikasiespesialis deur te skakel. ’n Spesialis klink vir my dié keer heel aanvaarbaar . . .

Hy verwys my egter na die Uitvoerende Hoof: Kommunikasie, wat my op sy beurt na die Interne Kommunikasiespesialis se Persoonlike Assistent deurskakel. Dié hanteer egter net dié betrokke beampte se eksterne kommunikasie . . .

Teen dié tyd is ek en die skakelbord-dametjie (seker die Gehoorbuisspesialis) beide so deurmekaar; ek sien al in my geestesoog hoe sy verward na knoppies op die telefoonstelsel soek om die persoon met die regte titel op te spoor.

Die feit dat sy totaal verlore is tussen al die titels en afdelings wat sy op ’n daaglikse basis moet koördineer, kan ek verstaan. Arme vrou.

Die Persoonlike Assistent belas met Eksterne Kommunikasie voel my navraag moet kunskantoor toe, wat onder die advertensie-afdeling resorteer. Die Senior Grafiese Ontwerper wat rapporteer aan een of ander “Hoofseun” van die afdeling, is my man – maar dié is missing in action.

Ek wil skree van moedeloosheid, maar my Calvinisme (ook ’n titel waarvan ek soms ontslae wil raak) skop egter net betyds in.

Ek sit die foon neer en begin lag vir die belaglikheid van titels. Ons raak daarin verstrengel en dit kan ons kniehalter om ons werk gedoen te kry. Sommige slinkses gebruik dit selfs as ’n skuiwergat om verantwoordelikhede te ontduik.

Ek begin dagdroom: in my verbeeldingsvlug bel ek wéér die betrokke onderneming. My missie is dieselfde as netnou.

Die Gehoorbuisspesialis antwoord en rammel die maatskappy se naam weer outomaties af.

“Is jul Senior Foutmaker, Adjunk Spelprobleem of dié se Assistent-Adjunk Luiaard dalk beskikbaar?” vra ek sarkasties.

En sy antwoord ewe beleefd: “Ja, al drie is hier. Ek skakel u onmiddellik deur.”

Pieter is die Eienaar van sy naam en van . . .

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management