In die lewe is daar ’n paar dinge waaraan mens nou een maal nie mag vat nie. Wel, eintlik ’n hele paar, maar ek dink nou spesifiek aan die aanloklike versoekings.
Hierdie taboes verander ook mettertyd. Op kleuterskool was dit waarskynlik die blonde dogtertjie se dik vlegsels en toe jy ’n laaitie was, seker jou pa se Penn-katrol, jou sussie se pienk dagboek met die klein blink slotjie en nagmaalbroodjies.
Later word dit jou pa se lekkerruikgoed, sy skeermeslemmetjies en jou sussie se beste vriendin.
Op universiteit is dit gewoonlik jou pa se karsleutels en die dekaan se dogter. Maar, wanneer jy begin werk, is dit sonder twyfel (met die moontlike uitsondering van die baas se vrou) jou kollegas se kos in die werk se yskas!
As dit nie joue is nie, moet jy eerder die Smoked Salmon Simonsberg-smeerkaas laat vrot word as om ’n bietjie daarvan op jou droeë roosterbrood te smeer.
Raak aan iets en die e-posse aan personeel begin deur die kuberruim vlieg. “Sal die persoon wat my aarbei-jogurt uit die yskas gevat het, dit asseblief vervang? No questions will be asked – Dankie ”.
Of, erger nog, “Ek hoop die sop wat ek in die geel Tupper-bakkie in die yskas gesit het, gee maagpyn vir wie ook al dit geëet het. Kan jy minstens my bakkie terugbring, dit was ’n geskenk van my skoonma. By voorbaat dank”.
Hierdie e-posse word aan al die hoë koppe ge-cc en so maak yskas-etiket gereeld ’n draai op personeelvergadering-agendas, gewoonlik saam met die misterieuse verdwyning van kantoorteelepels en persoonlike koffiebekers.
Wanneer die yskas bespreek word, is daar altyd ’n sekere groepie wat saampraat op die vergadering en die kanse is uitstekend dat dié wat juis die meeste kla, gewoonlik die minste sê wanneer die geleentheid hom voordoen.
Die heel eerste voorstel is gewoonlik dat die onderneming oombliklik ’n groter yskas moet koop en dat elke afdeling dan ’n rak in die yskas kan gebruik. Of dat mense hulle noedels, vrugteslaai of oorskiet-kerrie duidelik moet merk.
Só vertel ’n vriend my nou die dag van ’n blink plan wat een van die vroue by sy werk gemaak het.
Die werk koop weekliks volroommelk in plastieksakkies vir die personeel en sorg dat daar altyd genoeg koffie, tee, suiker en Cremora is. Die dametjie van wie hy my vertel het, is een van daais wat sonder ophou dieet – nie juis met vreeslike welslae nie, maar dis nie nou ter sprake nie.
As deel van haar “streng” dieet (wat gereeld ook sjokolade insluit), bring sy afgeroomde melk werk toe. Nie volroom nie, want dis wat die werk verskaf. Nie melk met 2% minder vet in nie – totaal en al afgeroomde melk in daai kartonnetjies met die blink binnekante.
So gebeur dit van tyd tot tyd dat die werk se melk opdroog of dat iemand bloot te lui is om ’n sakkie melk oop te knip – die kombuisskêr is nie meer in die boonste laai nie – en dan lyk die geenvet-melk in die netjiese boksie in die yskas se deur baie aanloklik.
Soos julle weet, is mense wat aanmekaar dieet gewoonlik meer knorrig as die res – moet die suikerfluktuasies wees. Ná die soveelste keer dat iemand haar boksie leeg in die yskas gesit het, het sy soos Martin Luther besluit, “Tot hier toe en nie verder nie!”
Niemand drink meer haar flou melkies nie, want as jy nou die yskas oopmaak en geen ander melk sien nie, staan daar in die deur, eenkant asof dit gif is, ’n 500ml-mineraalwaterbotteltjie met melk in.
Die dik swart Koki-letters lees eenvoudig: “BORSMELK”.
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited