Die rolverdeling van twintig in die Afrikaanse musiekskouspel Ro(c)k ’n Taal se harte klop vuurwarm in Afrikaans en – soos die spreekwoord lui – waarvan die hart vol is, loop die mond gewoonlik van oor.
Port Elizabeth se amateurteatergroep, ATKV – PEAAT, wys van Woensdag tot Saterdag (6 tot 9 Augustus) in die Savoy-teater in die Baai, met ’n keurspel van die mooiste liedjies, dat Afrikaanse musiek alle fasette van die lewe ondervang.
Volgens Ro(c)k ’n Taal! se regisseur, Pieter Rademeyer Jnr, is ’n Afrikaanse uitvoering van dié aard ’n eerste vir die Baai.
“Dit is ook ’n eerste vir ATKV-PEAAT. Ons het vyftig bestaande Afrikaanse liedjies gevat en dit met die hulp van ’n musiekregisseur (Lilian Zeelie) verwerk om dit ’n nuwe, moderne aanslag te gee,” sê Rademeyer, wat self ook een van die soliste is.
Die uitvoering is ’n keurspel van liedjies en ’n kleurspel van helder kostuums, slim dekor en polsende dansers onder leiding van die choreograaf Marelize Marx, aldus Rademeyer.
Volgens hom word elke element van die uitvoering vervleg om te verseker dat elke oomblik van dié skouspel opwindend is. “Ons wys dat Afrikaans nie uit die oude doos is nie, maar ’n lewende taal is wat tred hou met die tyd.
“Soms vertel die dansers die storie en soms word die dekorhelpers deel van die skouspel. Almal werk met een doel voor oë – om van hierdie eiesoortige uitvoering ’n reuse-sukses te maak.”
Die liedjies word in sewe temas saamgegroepeer om struktuur aan die uitvoering – wat geen dialoog bevat nie – te gee. Hierdie afdelings oorkoepel alle aspekte van die lewe.
Só boei die plekke-tema met treffers soos Johannes Kerkorrel se “Hillbrow” en “Halala Afrika”; mense roep karakters soos Mannetjies Roux en Sarah de Jager in die lewe; en liefde kry sommer twee afdelings en eindig in ’n klimaks met Amanda Strydom se “Stoom”.
Dan is daar nog die klein jakkalsies-, lief en leed- en die viering van die lekker en die mooi-temas, met liedjies soos Karen Zoid se “Afrikaners is Plesierig”.
Om die skouspel diepte en lewe te gee, sê Rademeyer, word daar deurgaans gewissel tussen solosang, duette en groepsang. Die soliste – almal van die Baai – is Rademeyer, Michael de Lange, Annelie Oosthuizen, René McCleod en Robynn King.
Die sangers word deur ’n sesstuk-orkes begelei, wat volgens Rademeyer een van die hoogtepunte van die skouspel is.
“Die orkes is op baie maniere die ruggraat van die produksie. Hulle gee beslis bykomende impetus en energie daaraan.”
Volgens hom is dit heerlik om sy lyf vir die eerste keer regisseur te hou. “Dis vir my ’n hoogtepunt en beslis iets wat ek weer sal doen.
“Almal wat betrokke is, is toegewyd en op die einddoel ingestel. Dit maak my werk baie maklik en lekker.”
Kaartjies vir Ro(c)k ’n Taal! kos R65 en is te koop by die West Way-kafee in Kaapweg, Newtonpark, of skakel hulle by 041 365 0217.
Mense kan hul eie eetgoed saambring en aansit by tafels van agt. Kaartjies word egter individueel en nie per tafel nie, verkoop.
’n Kontantkroeg sal beskikbaar wees en die skouspel begin om 7nm.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Pieter Rademeyer & ATKV-PEAAT