Een van my beste klein-seuntjie-herinneringe was die dag toe ek op Audrey Blignaut se boek Pasop vir die Jan Taterat op my ouma se koffietafel afgekom het.

In hierdie boek skryf sy oor die dinge wat regtig saak maak; daardie dinge wat jy nie hoef te doen nie, maar wíl doen.

Een van die essays wat my aangegryp het, was Die Jazz-orrel. Sy vertel hierin van ’n vrou wat net eenvoudig nie, hoe snaaks dit ookal mag klink, sonder haar jazz-orrel vir die lewe kans gesien het nie.

Sy kon skaars ’n paar note reg druk, maar wanneer sy agter haar orreltjie ingeskuif het, het alle ander dinge tweede gekom. Dit was haar álles.

Ek dink dis wonderlik as mense die lewe – en spesifiek hul werklewe – vir hulself kan opjazz. Kyk, dis alles jou eie keuse: elke week kan ’n depressiewe opera-aria wees waar jy van een donker minieurklank na ’n volgende spring, of jy kan dit lekkerder maak – dit  opjazz!

Dikwels is elkeen van ons so besig om beter, verder en hoër te mik en te dink (want dis mos wat ’n uitdagende beroepslewe vereis), dat ons vergeet om die paadjie wat ons elke dag loop (of, inderdaad, hardloop!), te geniet. Ons fokus vervaag mettertyd en ons vergeet hoekom ons juis dié paadjie gekies het.

My vraag is of die motorwerktuigkundige nog werklik besef dat sy werk eintlik is om mense se veiligheid te verseker? Is die trou-koördineerders nog bewus dat hulle twee mense se mooi dag meer spesiaal moet maak?
Weet onderwysers dat hulle jongmense toerus met lewenswysheid op die pad na gebalanseerde volwassenes? Is die ontwikkelaar steeds bewus dat hy bydra tot behuising vir sy medemens? En is die dokter se eerste prioriteit steeds om na die welstand van mense om te sien?

Of werk ons net aan karre; reël ons net nog ’n troue; sukkel-sukkel ons om tog net deur die sillabus te kom; wil ons net nog geld maak; en is ons gedagtes nie al reeds by die volgende pasiënt wat buite vir sy ondersoek wag nie?

In hierdie koers-verloor van wat ons werklik doen, mis ons ongelukkig ’n stukkie van die lekkerte van wat ’n beroep kan en moet wees: om te gee; om te skep; om te ervaar. En bowenal, te geniet.

Toe ’n tydskrif onlangs vir Sonja Heroldt vra wat sy anders in haar roemryke loopbaan sou doen, het sy eenvoudig geantwoord: “Ek sou dit ook wou geniet het.” Want sy, nes ons, vergeet soms om in die oomblik te lewe.

Natuurlik is dit goed om die toekoms en moontlikhede nie uit die oog te verloor nie, maar ons durf nie die impak van die híér en die nóú te ignoreer nie.

En as ons skielik tussen die gejaag deur besef hoekom ons elke dag doen wat ons doen, dat ons iets vir iemand anders wil beteken en dat ons nie net vir ’n salaristjek werk nie, dan sal ons ook weet dat al daai ander jazz soos sperdatums, veeleisende kliënte, nimmereindigende afsprake en sieldodende administrasie eintlik nie ’n probleem in die groter prentjie is nie.

’n Leser stuur onlangs vir my ’n e-pos in reaksie op ’n rubriek, waarin hy met die volgende afsluit: If you love what you do, you never have to work another day in your life.

Hierop sê ek amen – want dán eers speel jy, soos die vrou in Audrey Blignaut se boek, met oorgawe op jou jazz-orrel.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications
 
Coetzee Gouws

041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited