As jy grootgemaak is soos ek, weet jy mens kyk nooit die spreekwoordelike gegewe perd in die bek nie. Selfs nie al is dit ’n (redelike nuttelose) staandertjie vir jou selfoon of nóg ’n plastiekliniaal nie.

Met sakeondernemings wat deesdae alles in hul vermoë doen om nuwe besigheid te lok en bestaande besigheid te behou, het die sogenaamde promo item onlosmaaklik deel van die wêreld geword.

Soveel so dat ondernemings jou besigheid se handelsmerk op enigiets – van ’n pen tot ’n pendeltuig – kan sit, amper oornag soos paddastoele opgeskiet het.

Mense word met promo items gelok om sportbyeenkomste by te woon, om in te teken op tydskrifte, om lekkerruikgoed te koop en selfs om nuwe bande aan hul motors te laat sit.

Van tyd tot tyd bederf ondernemings ook hul werknemers met iets wat die besigheid se handelsmerk op het.

Sommige kollegas kan nie vinnig genoeg in die bemarkingskantoor wees om hul goedjies te kom haal nie, ander het altyd ’n eiertjie te lê oor die kleur, gehalte of iets dergeliks en ander kan nie ’n flenter omgee nie.

Soos met baie ander dinge in die lewe, kom spyt gewoonlik te laat, wanneer die goed klaar bestel is en die angswekkende deposito veilig in een van die paddastoel-ondernemings se bankrekening is.

Dan moet mens maar verlief neem wanneer hulle – soms weke na die deadline – drie kartondose met jou promo items in jou voorportaal aflewer.

Dis juis wanneer die pret begin. Jy maak die bokse vol verwagting oop met jou karsleutel en sien jou handelsmerk is te klein, die verkeerde kleur of nie op die regte plek nie.

Nou wroeg jy. Moet ek bel? Wat gaan hulle sê? En meer op die punt af, wat presies kan hulle daaraan doen? Al waarin hulle nou belang stel is die faks wat jy moet stuur as jy die balans in hul rekening inbetaal het.

Nou sit jy met die gebakte pere of, meer presies, met 500 giggelpienk-opblaasstrandballe. Hindsight (sug) is ’n wonderlike ding!

Die promo item-ding, het darem ook twee kante. Elke nou en dan sien jy iets mooi in die paddastoel-mense se blink boeke, bestel dit, betaal dit, kry dit betyds en almal is erg beïndruk.

Jy is so in jou noppies dat jy jou persoonlike assistent vra om sommer twee van die oulike klein flitsies vir jou ma-hulle op Nelspruit te pos – vir wanneer die load shedding weer begin.

Die ander dag hoor ek ’n vreemde storie van ’n promo item wat omtrent ’n Kaapse draai gemaak het.

Die baas het vir sy werkers mooi tamatierooi-rugsakke gegee met die onderneming se handelsmerk daarop. Nie lank daarna nie is een van die ouens se rugsakke gesteel.

Soos die noodlot dit wou hê, ry hy een Saterdagoggend in die middestad toe hy iemand met sy rugsak sien stap. So maklik – het hy besluit – gaan dié skelm nie daarmee wegkom nie.

Hy het dadelik sy kar gestop, uitgeklim en die (taamlik bejaarde) man tromp-op geloop en geëis dat hy sy rugsak teruggee. Toe die man weier, het hy uit pure frustrasie begin skel en sommer die appels begin swaai.

Net daar op die sypaadjie het hy die sak gegryp, dit omgedop en leeggemaak, oor sy skouer gesit en weggery. Die man het hom verwese agterna gestaar.

Maandagoggend op kantoor het een van sy kollegas desperaat vertel hoe haar arme tuinman die naweek, helder oordag in die middestad van sy rugsak – nogal die een wat sy vir hom gegee het – beroof is . . .

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited