Wanneer ek by musiekwinkels instap, loop ek onmiddellik na die mandjie met die CD’s wat na R29,99 afgemerk is.

Dis dikwels die jong, opkomende kunstenaars se debute wat toe nie sterk genoeg was om werklik mee te ding in die kommersiële mark nie, wat daar beland.

Verlede week stap ek weer met vyf-en-twintig kopieë van een van my gunstelinge se CD’s daar uit – omdat ek haar innig jammer kry, maar ook omdat ek nie wil hê kopers moet haar musiek op grond van ’n price tag beoordeel nie.

Op pad kar toe dink ek by myself: Hoe kan mense nie ’n eerste poging ondersteun nie? Hoe kan mense nie belang stel om te luister wat hierdie nuweling te sê het nie?

Ek besef dit het met lojaliteit aan die een kant en met smaak aan die ander kant te doen, maar ek glo onvoorwaardelik in die magic van ’n eerste, opregte poging . . .

Ek glo ook dis die plig van elke mens om die groentjie – op watter vlak van ons bestaan ookal – te ondersteun en aan te moedig. Té dikwels sien ek negatiwiteit, geïrriteerdheid en belangeloosheid jeens nuwelinge.

Op kantoor kry die nuwe sekretaresse eerste die blaam as iets skeefloop, want die ander een werk dan al tien jaar daar; en die nuwe onderwyser kan nie dissipline handhaaf soos die ouer hande wéét dit gedoen moet word nie.

Van die kantlyn af word hulle dan met geligte wenkbroue beloer. En so word hul werkslus geblus deur ander wat hulle nie die behoorlike kans wil gun wat hulle verdien nie.

As beginner-onderwyser het ek ná ’n uitmergelende naweek van eerste-keer-eksamenvraestelle-opstel met trots my handewerk die Maandag vir my kollegas gegee. Ek was baie opgewonde oor (so het ek geglo) die mees kreatiewe Afrikaanse vraestelle ooit!

Die terugvoer het my egter onkant gevang.

Een kollega het my vraestelle so verwoestend met rooi ink bekrap dat ek vir ’n oomblik kon glo ek is een van die leerlinge en nie die onderwyser nie. Hy het boonop vir my opstelle geskryf oor hoekom ek nie vrae op daardie spesifieke manier moes vra nie . . .

Die waarheid was dat die vraestelle toe glad nie so swak was nie, maar die rooipenboelie, wat al twintig jaar vraestelle op sy manier opstel, wou my nie toelaat om anders as hy te dink nie.

’n Goeie vriend van my moes onlangs vir die eerste keer ’n gholfdag reël. Hy speel nie self nie en toe die bestuurder van die gholfbaan vir hom ’n baie tegniese vraag oor die spel vra, en hy dit nie met oortuiging kon antwoord nie, het dié hom subtiel laat verstaan dat hy die rede vir die mislukte dag gaan wees.

Maar my vriend het gewéét dis ’n eerste vir hom; daarmee saam het die bewustheid gekom dat hy bereid moes wees om vinnig te leer. Maar, bowenal, het hy geweet hy hoef nie self ’n gholfspeler te wees om ’n uitstekende gholfdag te kan reël nie.

Maar dié bestuurder het dié groentjie as onbevoeg afgemaak nog voor hy ’n billike kans gegun is om homself as organiseerder te bewys.

Ek dink eintlik dis wonderlik dat daar konstant “nuwe besems” in ondernemings is. En dis goed dat nuwe besems die skoonste wíl vee.

Nie net bring hulle varsheid na die tafel toe nie, maar “ou besems” kry in die proses ook die wonderlike geleentheid om selfondersoek te doen oor of hul jarelange bydraes in daardie spesifieke werksmilieu steeds dieselfde impak het as wat dit veronderstel is om te hê.

Of skuil hulle dalk agter die woord “ervaring”, wat hulle bestand maak teen moontlike kritiek? Ek het té veel keer in my lewe gesien dat ervaring, so goed en nodig soos dit is, ook ’n mens se grootste vyand kan raak.

My wens is dat wanneer jou pad met ’n groentjie s’n kruis, jy hom of haar by die hand sal vat en met ’n kollegiale gees wat spreek van positiwiteit en begrip, sal optree. En ook sal weet dat mentorskap veel meer waarde dra as skeptisisme, negatiwiteit of onverdraagsaamheid.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications
 
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited