Die volgende woorde was in my Engels-juffrou se klaskamer opgeplak: “A Poet must write; a Musician must make his music; an Artist must paint – if he is to ultimately be at peace with himself”.

Al verstaan ’n 14-jarige nog nie regtig dié tipe woorde nie, het ek dit neergeskryf omdat iets vir my gesê het dis wáár woorde.

Vandag maak dit my hartseer as ek dink daar is baie jongmense, selfs volwassenes, wat nog nie die kuns bemeester het om wáár woorde in ’n hartskamer êrens toe te sluit nie.

Ek kry elke dag met moeilike mense te doen wat nie destyds met aandag na die stemmetjie in hul hart geluister het nie en net blindelings in ’n beroepslewe ingeduik het – sonder om die water te toets.

Die resultaat van dié besluite maak van baie mense swak swemmers: hulle druk stempels hard en aggressief op ons tjeks in die bank; hulle stuur ons spoedpos met ’n gesukkel; hulle verskree kinders onnodig in klaskamers; hulle sit ’n bord kos neer asof dit iets is waaraan hulle self nie hul mond sal sit nie; hulle ignoreer jou as jy hulle aandag in ’n winkel probeer kry – en dit skeel hulle min of jy tevrede is met hul diens of gebrek daaraan.

As kind was ek te bang om ’n boek in ons biblioteek uit te neem, want die tannie agter die toonbank met die baie plooie en ’n ingekerfde frons was hopeloos te kwaai en het gedink almal wat deur boeke blaai se hande is vetterig. Ek kan selfs vandag nie met vrymoedigheid in sekere winkels instap nie, want die gesigsuitdrukkings en liggaamshoudings van negatiewe werkers intimideer my.

En so ontneem dié mense ons van ons reg op klein plesiertjies.

Ek is vas oortuig dat swak diens, luiheid, laksheid en ledigheid grootliks te make het met verydelde drome . . .  Nou moet die kliënt maar tevrede wees met die dik en stywe lip, die skrefies-oë wat vrees inboesem en ’n algehele belangeloos- en traak-my-nie-agtigheid.

Hoekom is dit so dat mense altyd die veilige opsies kies wanneer hulle beroepsbesluite neem?

Té veel mense sien die uitslag van die aanlegtoetse aan die einde van hul skoolloopbaan as die alfa en omega, of hulle gaan swot iets wat Pa en Ma voorstel. Ander verloën hulself vir die sekuriteit van ’n salaristjek by die staat of ’n gevestigde maatskappy . . .

Ek glo ’n beroepskeuse- of aanlegtoets hoef net een vraag op te hê: wat sê die stemmetjie in jou hart vir jou wat jy elke dag vir die res van jou lewe moet doen? Dis waar jou passie lê.

Daar is só baie talentvolle mense wat doodeenvoudig net nie by hul hart kan uitkom om te besef dat hulle hul siele besoedel deur dag in en dag uit iets te doen wat hulle nie wil nie; wat hulle nie inspireer of motiveer nie. Ek besef geld speel ’n rol, maar dit het eintlik ook niks met geld te doen nie.

Vandag wil ek jou uitdaag: moenie meer die lang gesig by die werk wees nie – neem die sprong! Vergeet vir eers van die nagevolge en glo in dit wat jy weet wáár is vir jóú. Dit móét en kán en sál moeilik wees, maar doen dit met oorgawe, passie en geloof in jouself.

Want, liewe leser, dis al hoe jy in een stuk aan die ander kant gaan uitkom; dis al hoe jy vervuld sal wees in hierdie één lewe wat jy het. Wees ’n entrepreneur met jou drome!

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications 

Coetzee Gouws
041 360 3127
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited