Dit sou vir my aangenaam wees om die skrywer en regisseur van die komedie Intrige en Drama by die Werk te kon wees, want die storielyn, hoofspelers, dekor en rekwisiete kies hulself.
Alle kantore in dié komedie sal ’n dokter aan diens hê, sodat werkers nie meer doktersafsprake gedurende werksure hoef te maak nie.
Die base in my toneelstuk sal boonop goeie naelterapeute en haarkappers aanstel, want werktyd is mos sinoniem met dié soort van ding. Nou kan almal rustig en sonder skuldgevoelens hul nael- en haarafsprake tydens werksure skeduleer.
’n Ordentlike selfoon-charger by elke lessenaar is ’n belangrike prop, want ek sou nie wou sien dat werkers onnodig kortgeknip word voor hul hordes persoonlike oproepe gemaak is nie – môre is mos darem nog ’n dag om daardie dringende werk af te handel, of hoe?
In dié stuk sal daar beslis ook ’n kombuis en strykkamer in elke vleuel van die gebou ingerig word – sodat werkers sommer van aangesig tot aangesig met hul huishulpe kan praat om sodoende die daaglikse klere-van-die-draad-afhaal- en watse-kos-moet-vir-aandete-uitgehaal-word-oproepe uit te skakel.
Spesiale wandelpaaie sal in die gange uitgelê word vir diegene wat alte graag ronddrentel en net nooit by hul lessenaars te vinde is nie. ’n Goed-ontwerpte binnenshuise gholfbaan sal dieselfde vir gholfbase doen…
Daar sal pakke kaarte en régte dobbelmasjiene en pokertafels wees – sodat dit nie vir werkers meer nodig sal wees om heeldag dié tipe speletjies op die rekenaars te sit en speel nie.
Dié onderneming sal natuurlik ’n paar staatmaker-personeellede hê en my hoofrolverdeling sien só daaruit:
Oprah, die kletskoningin, met ’n luukse kantoor en sagte rusbank vir diegene wat gewoonlik kollegas opsoek om onbenullige ditjies en datjies oor hul persoonlike lewe te bespreek (“Seun het mos nou al drie tandjies…”).
Dr Ruth, reg langsaan, se kantoor sal nine to five oop wees vir diegene wat elke dag iets anders het om oor te kla. Gewoonlik mos oor die vreemde reuk voor by ontvangs of die perske-kleur van die toiletmure.
Die TV-onderwyser met al die antwoorde, William Smith, sal kan instaan vir werkers wat gewoonlik moet bontstaan om met kollegas se kinders se skoolprojekte uit te help. Selfs Emsie Schoeman sal onvervangbaar wees in haar rol waar sy kursusse in etiket, en veral telefoon-etiket, aanbied (“’n Mens eet nié terwyl jy oor die telefoon praat nie!” kan ek al haar daaglikse opvoedingstaak in my kop hoor).
Judge Judy sal help verseker dat bevorderings weer vir ’n slag regverdig en op meriete geskied en as Neil Armstrong nog nie afgetree het nie, sou hy aangestel word om kursusse aan te bied oor hoe om ongeskikte kliënte met vrymoedigheid na die maan te stuur…
Daar sal soggens by elke lessenaar ’n skoon beoordeelstaat met kollegas se name daarop wees, sodat almal moeiteloos mekaar kan be- en veroordeel vir foute wat hulle maak, want dis mos áltyd iemand anders se skuld! Die Glitterati-span se kameras sal dan rol vir openhartige skindersessies oor mekaar.
Natuurlik sal elke werker ’n tolk moet kry, sodat boodskappe vir eens en altyd tog korrek oorgedra kan word. ’n Chip met die elektroniese weergawe van ’n Afrikaanse en Engelse woordeboek sal in elke persoon ingeplant word om spelfoute uit te skakel.
Die laaste afronding wat in dié toneelstuk ingeskryf sal word, is om die sestig minute tussen 4nm. en 5nm. van horlosies te laat verdwyn vir dié wat ’n uur voor huistoegaantyd al begin oppak vir die groot uittog.
Lesers wat, soos ek, dink hierdie toneelstuk is te laf, sal ’n oudisie kan kom aflê vir my volgende, meer ernstige stuk met dieselfde tema. Dié toneelstuk, oor professionaliteit in die werkplek, sal fokus op hoe jy nié by die kantoor met dieselfde gemaklikheid as tuis kan optree nie.
Die titel sal ’n variasie op dié van Totius se bekende gedig wees – Die Werkplek is ons Woning nie…
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 360 3127
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited