Ek raak skaam as ek dink hoe ek destyds, as onderwyser, saam gelag het as kollegas gespot het dat ’n skoolhoof net heeldag sit en pos oopmaak.

Ek kry ook lekker lag as ek dink hoe ek as kind geglo het my pa, wat onder meer ontwikkelings doen, in sy bakkie rondry vir ’n lewe.

Gelukkig het ek wyser geword en besef ’n mens wat níé weet wat hy níé weet nie, is ’n gevaarlike mens.

Ek wil vandag ’n lansie breek vir base. Want die werklikheid is dat dié hoë bome beslis die meeste wind vang – en dikwels van hul eie personeel af!

Só stuur ek verlede week ’n e-pos aan ’n oorsese vriend. Sy persoonlike assistent antwoord: “Lourens is weer nie op kantoor nie. Hy rits die wêreld vol en ek weet nie wanneer hy eendag terug gaan wees nie. Darem lekker om die baas te wees…”

Nou, dié Lourens van wie sy praat, is ook dieselfde Lourens wat op 28-jarige ouderdom ’n bestuurder in ’n reuse, internasionale finansiële maatskappy is. Dié uiters bekwame mannetjie is letterlik een dag in Londen en die volgende êrens in Amerika.

Hy “rits” nie net rond nie. Hy, as hoof van sy afdeling, bied kursusse aan, doen voorleggings voor intimiderende sakemense en bou kontakte oor die wêreld heen op.

Maar sy persoonlike assistent, wat níé weet wat sy níé weet nie, laat dit klink of hy permanent vakansie hou – en dat dit sy skuld is dat sy heeldag voor ’n rekenaar sit!

Die moeilike ding van baas-wees is, volgens my, die feit dat woorde soos “krisisbeheer”, “strategiese beplanning”, “konflikhantering”, “vorentoe-dink”, “gehaltebestuur”, “inisiatief-neem”, “personeelkwessies”, en nog ’n klompie ander interessantes, nie soos baie werknemers se daaglikse take op ’n to do-lysie gekwantifiseer en afgemerk kan word nie. Sulke woorde, tesame met ’n vrag administratiewe verpligtinge, sorg vir slapelose nagte, waarvan baie werkers ook salig onbewus is.

Dan neem dit net één persoon met ’n bietjie té veel selfvertroue en te min insig om die res aan te steek om te sê: “Ek wens ek was die baas sodat almal om my alles vir my kan doen en ek net heeldag kan rondsit…”

Ja, hoë bome kry beslis die meeste wind, meestal onverdiend. Die snerpende Kaapse Dokter tref my ook mos nou die dag toe ek ’n jarelange kennis raakloop.

“Lekker laat geslaap vanoggend, nè.” (Moet seker my koerant-afleweraar ken, dink ek, want ek het dié nie soos gebruiklik om halfses ingewag nie.) “Ek het tienuur gebel en toe sê die dametjie jy is nog nie op kantoor nie – jy slaap seker laat.”

Ek lag toe maar verleë en bedink myself voor ek begin opnoem wat ek al alles  vanoggend (en gisternag!) gedoen het voor ek kantoor toe is…

Dáárdie dametjie is ook die een wat gedurig vir my goed sê soos: “Het jy gesien ons het ’n nuwe yskas?” en “Het jy gesien die fotostaatmasjien is weer reg?”

Dan staar ek haar stom van verbasing aan en sê onhoorbaar: “Nee, ek is heeltemal onbewus van al die dinge wat hier om my in my besigheid gebeur. Onthou, ek is net die baas…”

So paar weke gelede doen ons ’n promosie in die koerant. Niks groot nie, maar tussen afsprake, funksies en admin deur bel ek adverteerders, skryf die kopie, doen uitleg; heen-en-weer word reëlings getref. Alles so op ’n stil manier – soos dit hoort.

Die dag van publikasie kry ek weer ’n SMS van haar af: “Kyk vinnig op bladsy vier van Die Burger! Daar is ’n promosie oor ons! Sjoe, die koerant is darem nice!”

Ek SMS terug: “Ek kan dit nie glo nie! Ongelooflik! Dit ís fantasties! Terloops: kyk vinnig op jou bankstaat – jou salaris is vanoggend weer op ’n wonderbaarlike manier in jou rekening gedeponeer! Sjoe, die bank is darem nice!”

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 360 3127
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

Pieter Rademeyer (PR Unlimited)