Die skraal man met die effe grys in sy blonde hare en die helende hande is al nege ure op sy voete in die operasiesaal, besig om sy derde delikate skoueroperasie van die dag uit te voer. Bokant sy blou oë is ’n effense frons van konsentrasie, maar sy hande vat sekuur en raak.
Die skraal man met die effe grys in sy blonde hare en die helende hande is al nege ure op sy voete in die operasiesaal, besig om sy derde delikate skoueroperasie van die dag uit te voer. Bokant sy blou oë is ’n effense frons van konsentrasie, maar sy hande vat sekuur en raak.
Die 48-jarige dr. Hans Myburgh is ’n bekende ortopediese chirurg in Pretoria en hy bring daagliks ure langs operasietafels deur. Dis egter nie sy bene wat hom regop hou nie. ’n Spesiaal aangepaste elektriese stoel hou hom in ’n staande posisie wanneer hy pasiënte se skouers en knieë regmaak. Met handoperasies kan hy in sy gewone stoel bly sit.
Dit is egter nie hoe hy altyd geopereer het nie. Ses jaar gelede toe hy in die fleur van sy lewe was – fiks, gesond en sportief – het ’n motorfietsongeluk (’n motor het voor hom ingery) in ’n oogwink byna sy lewensdraad kortgeknip.
Dr. Myburgh het veelvuldige beserings opgedoen, onder meer sy rug en bekken gebreek en sy slukderm is afgeruk. Veertig dae en veertig nagte het hy tussen lewe en dood in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid rondgedobber. “Soos Noag van ouds,” merk hy droogweg op. Sy vrou is vier keer dringend na die hospitaal ontbied om hom te groet, maar die dood was nog nie vir hom beskore nie.
Hy glo die Here het hom gespaar vir ’n rede – om goed te doen waar hy kan. Dié taak sou egter nie maklik wees nie, want, anders as met sy pasiënte, kon niemand hom volkome regmaak nie. Ná die ongeluk was dr. Myburgh van sy tepellyn af ondertoe verlam. Dit was ’n geweldige slag – nie net fisies nie, maar ook psigies.
“Ná die ongeluk was ek vreeslik angstig,” vertel hy. “Hulle het vir my gesê ek sal nooit weer kan werk nie. Dit was verskriklik om te dink ek sal nie vir my gesin kan voorsien nie. Ek is ’n selferkende werkolis en die gedagte dat ek nie weer sou werk nie, het baie stres veroorsaak.”
In Suid-Afrika raak tussen 400 en 500 mense jaarliks verlam weens rugmurgbeserings, die meeste tussen die ouderdomme van 15 en 29 jaar. Motor-, motorfiets- en voetgangerongelukke is die grootste sondebok. Vir elke vrou wat verlam raak, tref dié lot vyf mans. Talle kan nooit weer ’n ekonomiese bydrae maak nie.
Dit het harde werk en bloedsweet gekos, maar dr. Myburgh kan nou weer amper alles doen wat hy voor die ongeluk gedoen het. “Net stadiger,” glimlag hy. Slegs ’n paar dinge soos trappe klim is steeds onmoontlik. “Ek sê elke dag dankie vir die Here dat ek weer voluit kan lewe. Alles vat nou wel langer, maar my lewe gaan voort. Die ongeluk het my baie geduld geleer.
“My lewensfilosofie is dat mens nie moet kyk wat jy verloor het, maar eerder fokus op wat jy oor het en die beste daarvan maak. Dis wat die Here van ons verwag.”
Hy het met klein takies begin soos om self uit die bed tot in sy rolstoel te kom. Hy het baie geval en op ’n stadium gedink hy gaan dit nooit regkry nie, maar hy het aangehou tot hy dit self kon doen. Daarna was dit weer ’n uitdaging om self van die rolstoel tot op die toilet te kom. Só het hy mettertyd oorwinnings behaal.
Vandag doen hy alles self wanneer hy in die oggend gereed maak vir werk, al neem dit ’n uitmergelende uur-en-’n-half voor hy by sy motor is en gereed is om te ry. Van die oomblik dat hy sy oë oopmaak, verg sy dag deeglike beplanning. Die hele proses van opstaan, stort, aantrek, eet, ry tot parkering soek, verg inspanning.
Sy dae is propvol, maar hy verkies dit so. Hy sê dit laat minder tyd om te tob oor sy omstandighede en só fokus hy op die positiewe. Sy dae word verdeel tussen operasieteaters, klinieke vir pasiënte met hand-, skouer- en boonste ledemate probleme, pasiënte sien by sy praktyk, akademiese vergaderings en administrasie.
Dr. Myburgh werk by die Pretoria Akademiese-hospitaal en ’n paar privaathospitale. Sy dae eindig gereeld eers na sesuur saans. Ná lang operasie-sessies het hy dikwels erge pyn tussen sy skouers. Hy glo die Here het hier ook tot sy redding gekom. Hy meen hulpmiddels soos medisyne, operasies en nou ook biotegnologie is daar om die mensdom se pyn en lyding te verlig.
Mikrostroom-elektroterapie maak ’n groot verskil in sy lewe. Hy gebruik die Elexoma Medic-toestel – ’n produk van die Switserse biotegnologie-maatskappy, RedPlane – een maal ’n week vir 20 minute om die pyn te verdryf. Sodoende kan hy die gebruik van medikasie beperk. Sy vrou, Celeste, is ook ’n groot aanhanger van dié toestel.
“Die situasie met my ongeluk en verlamming plaas geweldig baie stremming op haar,” sê hy sag. “Mens besef nie altyd hoe jou geliefdes ook ly nie. Sy gebruik amper elke aand dié toestel se kraniale elektrostimulasie-funksie om haar beter te laat slaap.
“Ek glo dié toestel het baie potensiaal en ek brand om navorsing daaroor te doen. Ek sal veral wil sien hoe goed dit vir artritis werk. Ek is reeds in gesprek met die verspreiders van Elexoma in Suid-Afrika om die navorsing aan die gang te sit.”
Volgens dr. Otto Muller, wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot farmakologie en geneesmiddelontwikkeling vereer is, is mikrostroom-elektroterapie gegrond op goed bewese medies-wetenskaplike beginsels.
“Hierdie benadering help die liggaam om sy sellulêre ewewig te herstel en sodoende kan dit pynverligting teweegbring en inflammasie teenwerk,” sê hy. “Die positiewe effek op gemoedstoestand is te wyte aan ’n herrangskikking van chemiese neuro-oordragstowwe in die brein.”
Wanneer dr. Myburgh nie lang ure insit om na sy pasiënte om te sien nie, ontspan hy graag oor naweke met ’n pyl en boog in sy hande by die Hartebeespoortdam. Hy het eers net vir die pret geskiet, maar van verlede jaar af benader hy die sport met meer erns. Hy het ’n goeie tweedehandse boog in die hande gekry en jag daarmee wanneer hy kans kry.
“Dis ’n fantastiese manier om tyd in die veld deur te bring. Boogskiet vereis baie konsentrasie en vaardigheid, omdat mens naby die bokke moet kom,” verduidelik hy. “Ek spandeer ure in ’n skuiling om vir die perfekte skoot te wag.
“Die bok moet honderd persent reg staan en wegkyk van die jagter af. Die tye wat ek vir daardie skoot wag, geniet ek die natuur waarin ek my bevind. Ek kyk vir die voëls en die wild. Boogskiet is ook ’n meer genadige manier om te jag. Daar is nie ’n skoot wat klap nie, so die ander bokke het nie stres nie. Die bok wat geskiet word, weet dikwels nie eens hy is getref tot hy omval nie.”
As hy nie jag nie, geniet hy dit ook om op vierwiel-motorfietse rond te rits of lyn nat te maak met kunsvlieghengel. Die lewe het hom ’n dwarsklap gegee, maar hy is vasbeslote om die silwer randjie van die donker wolk te vind.
“Ek is nou meer verdraagsaam teenoor ander mense. Ek glo elkeen van ons het goeie eienskappe en ek maak nou tyd om dit te probeer raaksien. Elke mens het sy eie pyn om te verwerk en elkeen het ’n kruis gekry om te dra. Myne is my verlamming.
“Sommige mense se kruis sit egter tussen hul ore. Dis vir hulle wat ek wil sê dat almal met iets sukkel. Dis hóé jy dit hanteer en die beste daarvan maak, wat tel. Dit maak nie saak hoeveel keer jy in die proses val nie, solank jy aanhou probeer. Ek moes doelbewus my denkwyse verander en ’n mindshift maak om te oorleef.”
Sowat 5,9 persent van Suid-Afrika se bevolking leef met een of ander vorm van gestremdheid. Statistieke toon ook dat gestremde mense toenemend by hul gebrek aanpas en dat die meeste net so lank soos hul normale eweknieë leef.
Dr. Hans Myburgh is ’n lewende voorbeeld dat gestremde mense steeds ’n suksesvolle en vervullende lewe kan lei. Hy eindig dan ook die onderhoud met die volgende raad: “Moenie noord kyk nie, maar kyk wes en doen jou bes.”