“Uit ’n grondkoop-oogpunt is dit goeie nuus vir ontwikkelaars, want met meer beskikbare grond vir ontwikkeling, sal dit pryse in dié gebied laat stabiliseer.” Hy het gesê die min beskikbare gesoneerde grond se pryse het tydens die moratorium die hoogte ingeskiet.
Die bekende eiendomsagent en ontwikkelaar van die Oos-Kaap, Jaco Rademeyer van Jaco Rademeyer Estates, het gister gesê die metro so opheffing van die moratorium op ontwikkelings in Lorraine kan op die oog af ’n positiewe effek op ontwikkelaars se sak hê.
Hy het egter bygevoeg dat die goedgekeurde omstrede ruimtelike ontwikkelingsraamwerk, wat 50 wooneenhede in plaas van die vorige 20 per hektaar toelaat, ’n negatiewe effek op dié gebied kan hê indien dit nie ordentlik deur die owerhede gereguleer word nie.
“Uit ’n etiese en morele oogpunt is dit moeilik om die logika van veral die nuwe ruimtelke ontwikkelingsraamwerk te sien,” het hy gesê. “Ontwikkelaars het ’n latente verantwoordelikheid om in samewerking met partye soos stadsbeplanners toe te sien dat die toekomstige vloei en uitleg van die stad in ooreenstemming met die publiek se behoeftes plaasvind, asook faktore soos verkeersvloei en estetiese waarde in ag neem.”
Rademeyer het gesê hy voorsien nie nou noodwendig ’n stormloop deur ontwikkelaars nie, aangesien ontwikkelings in soortgelyke prysklasse tydens die moratorium na gebiede soos Sherwood, Kabega Park en Bridgemead verskuif het. “Lorraine het ook reeds amper ’n plafon bereik en ontwikkelaars is altyd opsoek na nuwe geleenthede.”