Augustus is Vrouemaand en ’n gepaste tyd om vroue se benadering tot finansies van nader te beskou, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.

Talle boeke is al oor dié onderwerp geskryf; hoofsaaklik omdat die vrou se primêre rol van
moeder en versorger haar fundamentele benadering tot geld ánders maak.
Al krimp die gaping tussen mans en vroue se vergoeding voortdurend, is daar steeds ’n gaping omdat werkende moeders dikwels bereid is om ’n laer vergoeding as mans te aanvaar.

Sodra hulle kinders het, ag heelparty vroue ’n loopbaan as sekondêr teenoor hul rol as moeder. Hulle betaal dan ook die prys wanneer ’n persepsie ontstaan dat hulle nie meer so toegewyd is by die werk nie.

’n Onlangse opname in Suid-Afrika het getoon dat slegs 31 persent van maatskappye beoog om werkende moeders in diens te neem. Werkgewers is veral bekommerd oor skiktyd (flexi time) en die moontlikheid van verdere swangerskappe op ongeleë tye.

Moeders wat werk aangebied word, heg gewoonlik meer waarde aan die belange van hul kinders as aan die aanbod. Party is selfs bereid om vergoeding in te boet en eerder vir ondernemings te werk wat ’n buigsame beleid ten opsigte van werkure het.

Statistieke wys ook dat vroue meestal swakker daaraan toe is as mans wanneer hulle aftree. Hulle verdien merendeels minder en spaar ook minder.

Vroue het egter eintlik meer geld nodig wanneer hulle aftree, want hul lewensverwagting is hoër.

Moeders skaal maklik hul werkverpligtinge af en bevind hulle van tyd tot tyd buite die arbeidsmark omdat hulle ander prioriteite het. Dit beteken hulle dra minder tot ’n pensioen-  of voorsorgfonds by as wat die geval behoort te wees.

Vroue met kinders gebruik ook soms van hul aftreegeld om lewensmiddele aan te skaf wanneer hulle tuis bly om tyd aan die kinders af te staan.

’n Amerikaanse sielkundige, Colette Dowling, skryf van die Cinderella Complex in haar boek oor die vrou se vrees om onafhanklik te wees. Sy meen die vrou het ’n diepliggende behoefte daaraan dat iemand vir haar omgee en haar oppas.

Dit maak nie saak hoe onafhanklik en vrydenkend vroue geword het nie; sommiges wag steeds op ’n prins op ’n wit perd wat hulle sal wegvat en versorg.

Na aanleiding hiervan kan enkele riglyne saamgestel word wat vroue kan help om finansieel meer paraat te wees.

Ten eerste moet hulle leer om vernuftig te onderhandel. Vroue is dikwels apologeties en staan terug wanneer hulle oor geldsake praat.

Hoe meer ervaring en vaardighede hulle egter het, hoe meer waarde kan hulle in die werkplek toevoeg. ’n Behoefte aan buigsaamheid beteken nie dat sy nié haar taak goed verrig nie.

As moederskap ’n werklikheid in jou lewe is, moet jy beplan daarvolgens.

Dis noodsaaklik dat elke vrou vroeg in haar loopbaan iets vir haar aftrede begin wegsit. Wanneer sy swanger raak, moet sy daarmee probeer volhou, al is dit ’n geringe bydrae.

As hulle besluit om met ’n gesin te begin, moet hulle die implikasies met hul lewensmaat bespreek en sorg dat die finansiële verpligtinge wat daarmee saamgaan, regverdig verdeel word.

Vroue moet voorsiening maak daarvoor dat hulle dalk ongeskik kan raak om te werk of ’n ernstige siekte kan opdoen.

Dis ewe belangrik dat hulle afsonderlike bankrekenings het. Selfs al het hulle en hul lewensmaats ’n gemeenskaplike rekening vir huishoudelike uitgawes, moet hulle daarop bedag wees dat hierdie rekening “gevries” sal word as een van hulle iets oorkom.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.