Aankondigings oor ’n nuwe gesondheidsorgstelsel het menige (tot dusver gesonde) reënbooghart met vrees gevul.
Almal kla oor hoe duur mediese fondse is, maar ons betaal maar, want netnou eindig ons op in een van daai berugte staatshospitale.
Boonop word daar gesê dat nét diegene wat dit kan bekostig vir dié nuwe stelsel sal opdok, maar hulle sal op net soveel – of min – geregtig wees as dié wat glad nie betaal nie. Klink vir my amper soos ’n moderne weergawe van Robin Hood . . .
Dat daar groot fout met openbare gesondheidsorg is, is nie te betwis nie. Daarvan is die stakende verpleegsters ’n klinkklare bewys.
Dit verbaas my dat verpleegsters en byvoorbeeld polisiemanne, wat ’n lewensnoodsaaklike diens verrig, en waar die kleinste oordeelsfoutjie die verskil tussen lewe en dood kan beteken, nie behoorlik vergoed word nie.
Hoe kan mens dan nou op jou werk konsentreer as jy moet wonder hoe jy vanaand kos op die tafel gaan sit?
Wat nog meer onrusbarend is, is die feit dat staatsdokters nou ook staak: darem nie net ter wille van hulself nie, maar ook van hul pasiënte. Net so keelvol soos die publiek vir die diens in staatshospitale is, is hulle blykbaar vir die omstandighede waarin hulle dié diens moet lewer.
Hulle moet siekes – wat dikwels dae lank moet wag – gesond dokter, maar die staat kan nie eens sorg dat hulle die mees basiese toerusting en medisyne tot hul beskikking het nie.
Wat my van die stakende dokters beïndruk het – en bewys het dat dit vir hulle werklik ’n hartsaak is – was dat hulle nie hul pasiënte in die proses laat ly het nie deur hul punt in hul kosbare etensuur te maak.
Genadiglik is alles nie nét doom en gloom nie.
’n Kennis moes nou die dag noodgedwonge by die Provinsiale Hospitaal in die Baai vir behandeling aanklop en hy was verstom oor die puik diens wat hy ontvang het. Hy is selfs, dadelik, deur ’n spesialis ondersoek.
Die Dora Nginza-hospitaal weer, hoor ek, het ’n fantastiese spesialiseenheid vir die behandeling van brandwonde en hulle spog met wonderlike suksesverhale, wat mens darem ’n bietjie hoop gee.
Die vraag is egter of die regering daarin sal kan slaag om ’n goeie balans te vind: dis nou om die publiek weer vertroue in staatshospitale te gee sonder om diegene wat reeds baie vir goeie mediese sorg betaal, meer vir slegter sorg te laat betaal.
Met die groot gaping tussen Eerste en Derde Wêreld-ekonomieë, kan ’n mens beswaarlik Suid-Afrika met lande soos Engeland en Australië vergelyk, maar miskien moet die ringkoppe in die regering gaan kyk of daar nie dalk lesse te leer is oor hoe om gratis gesondheidsorg te bied sonder om gehalte in te boet nie.
Ek is oortuig dat ons land se wet- en planmakers tot enigiets in staat is. Kyk maar net na die sukses van ons eerste demokratiese, nie-geweldadige, verkiesing in 1994.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited